In my wildste drome

curtain1709

Sy het so 3 huise van ons af gewoon en ek was in Std 3 (Jip dit was nog in daardie era…) en ek was tog so soooo verlief op die meisietjie. My oë het gedurig die horison bespied, op soek na die geringste tekentjie dat sy iewers tog net te voorskyn sou kom. Maar dis waar dit gebly het. Sy, iewers op die horison, en ek, gedurig skuilende agter die gordyne.

My verliefdgeit het egter nie afgeneem nie, maar my moed, om ooit met haar te gaan kennis maak en die ys te breek, nou ja, het my stiptelik sonder om ooit een keer te vaal, in die steek gelaat.

Hulp het wel eendag onverwags by my opgedaag. My nefie, Louis. In detail het ek my hart en hierdie pragtige meisie met hom gedeel. Hy stel voor ek skryf aan haar ‘n liefdesbrief waarin ek vertel aan haar, sonder om een enkele gryntjie detail uit te laat, presies hoe ek oor haar voel, en watter wonderlike eer en fenominale voorreg dit nie net vir my nie, maar ook my familie sal wees om haar in ons huis te ontvang vir ‘n koppie koffie en koekies. Ek kan nie meer so lekker onthou nie, maar ek onthou dofweg dat ek bygelas het, dat my Ma op standby is vir ‘n vyfgang maaltyd. Rede hoekom ek kan onthou, was haar kwaai kyk nadat ek haar toe wel op standby geplaas het!

Plan was, aangesien ek nie die guts gehad het om hierdie brief persoonlik aan haar te oorhandig nie, dat Louis my die eer sou betoon en dit namens my doen. Wel, ons het behoorlik ‘n gedetailleerde plan van aksie beraam, oorweging is selfs geskenk dat ek dalk hierdie een of ander prins kan wees en hy my dienskneg, of eerder ‘n generaal van een my my vele weermagte. My pa-hulle het egter, hoekom, weet ek tot vandag toe nog nie, nie gebyt aan hierdie planne nie. Al wat ons uit hulle gekry was iets van : “Loop speel buite en blaas jou neus ”

Kaalvoet, met skurwe hakke, vuil gesig en ‘n hemp wat uithang, het Louis nie ‘n sweempie van ‘n probleem of twyfel om my diep deurdagte, netjies geformuleerde, toegeplakte brief aan my Meisie-op-die-horison te gaan aflewer nie. Ek natuurlik, submerge hier agter die gordyne in. Noem my sommer : Mr Invisible.

Die uitdrukking op sy gesig laat my ongemaklik voel. “Was dit daai Engelse meisie in die derde huis aan die linkerkant?”

Ek knik stadig instemmend met ‘n vet frons tussen my oë. “Ek weet nie van die Engels nie, …” begin ek versigtig my relaas lewer toe hy voort stoomroller: “Sies! maar sy is lelik!” Daarmee knip hy ongevoelloos soos ‘n tipiese Std 4tjie my beplande kys so vinnig kort soos ‘n emmer water wat omgekeer word. Enige verdere beplanning aan familie-reunies is in flarde en boonop non-exsisting.

Ek wonder of die Engelse meisie goeie Afrikaans magtig was…

Christene kan ondermekaar soms in dieselfde tipe trant seker met die beste bedoelinge in slagysters trap. Kom ons noem dit verdoemende e-posse. E-posse wat jy uitstuur en jy nie weet of besef watter effek dit dalk op ‘n ander se lewe gaan hê nie. Vir die een persoon is dit soos water op ‘n eend se rug, vir die ander is dit soos kettings of boeie. Waarskynlik het van julle dalk al ‘n Powerpoint lëer ontvang getiteld: “The mark of the Beast” of so iets. Dit handel oor hierdie mikro klein sendertjie wat hulle in jou kan plant en dan vervang dit die geldstelsel en wat ook nog. Wat die skeppers van die e-posse nie vir jou sê nie is dat hierdie reeds al verskeie jare die rondte doen. Hierdie keer is die opskrifte net groter en visueel mooier gemaak. Jare later het niks steeds daarvan gekom nie, en maal dieselfde vrees-evangelie in ons midde rond. Iets waaraan ek destyds gedink het was: “As ons dan nie kan koop nie, hoe gaan ons lewe?” Weg is God se waarborg dat Hy vir ons sal sorg, weg is die waarborg dat God reeds daar is en was, dat Hy reeds ‘n plan het.  In twyfel het ek ‘n paar dae gesit en tob hieroor.

Indirek skep ons ‘n vakuum vir die satan om juis nog meer vrees in ons lewens te anker. Die uiteinde? Ons verloor ons vrymoedigheid en vrede in God en ons gaan oor na ‘n tweederangse geestelike lewe deur elke dag voort te strompel, sonder oorwinning.

Kom ek gee jou ‘n ander voorbeeld wat dalk meer volop is. Dalk ken jy die trant van hierdie tipe e-posse : “As jy werklik lief is vir God, dan sal jy hierdie e-pos aanstuur na ten minste 10 persone”. “As jy nie binne ‘n halfuur hierdie na ten minste 10 mense toe stuur nie, sal bad luck jou tref. As jy dit wel aanstuur sal soveel geluk na jou toe kom.” “As jy werklik omgee stuur dit terug en dit sal die teken wees…” En dan word daar afgesluit : “Moet nie die ketting breek nie, anders sal…”.

As daar weer so ‘n tipe e-pos aan jou gestuur word, delete dit summier sonder om dit aan te stuur. Breek die ketting en voorkom dat iemand anders langs die pad, wat dalk swakker in die geloof staan, onder ‘n emosionele binding kom. Kom ons draai eerder ons harte in totale afhanklikheid na God. Hy is immers die God van wonderwerke. Die Groot Geneesheer. Skepper God. Die Alfa en die Omega. Die Prins van vrede. Hy is die Een wat die geskiedenis geskryf het en absolute beheer daaroor uitoefen.

Leef jy eerder net vandag in Sy genade en bly weg van die genade wat deur mense bepaal word.

Johann

Scroll to Top