Daar is twee dinge wat my spoed en gemoed ‘n ernstige knou kan gee. Wat my spoed gee is wanneer ek ‘n dag voor die tyd uitvind die volgende dag is ‘n vakansie dag. Wat my spoed breek is wanneer ek spoed gevang het oor ‘n komende vakansie dag om net ‘n dag voor die tyd uit te vind, dit is toe nie ‘n vakansiedag nie…
Ongelukkig het ek vandag uitgevind Maandag is nie ‘n vakansiedag nie. Ek het eintlik al twee weke gelede begin regmaak vir ‘n dubbele langnaweek en myself emosioneel daarvoor begin voorberei. Ek vind toe uit die komende Vrydag is nie ‘n vakansiedag nie, maar iewers in my binneste was daar nog die hoop van Maandag en Woensdag wat ‘n vakansiedag was. Al my fokus was toe daarop gerig. Dit was groot hartseer toe ek met ‘n klient praat en hy my inlig dat ek hom Maandag moet bel. Op my vakansiedag? Dit sal mos nie deug nie lig ek hom ewe wakker in, net om met ‘n dwarsklap grond toe geslinger te word. Ek kry sommer weer ‘n Kramp Verskrikolitis en rol soos ‘n wawiel die week verder in.
Ek sal nog iets met jou deel. ‘n Paar naweke gelede word ek ‘n Sondagoggend wakker en besluit om sommer gou die koerant op die web te lees. Tot my verbasing is die inhoud nog nie opdateer nie. Dit was nogal vreemd, maar ek neem toe maar aan iemand het lekker opgeslip. Later die dag sien ek toevallig ‘n Super 14 wedstryd op TV. Dis vreemd en ek frons dat my neus vleuels soos swaan vlerkies oopsprei, maar niks sal my deesdae meer verbaas nie. Later die middag noem ons jongste dogter, Jonè, dat hulle na ‘n partytjie toe gaan. Nou frons ek dat my ore se was loskom. Wat gaan aan in hierdie wêreld van ons?
Ons oudste dogter is die spesifieke naweek by vriende op die plaas en sy ry gewoonlik Maandag oggende terug. Terwyl ek met haar oor die foon praat en net wil net seker wanneer sy terugkom, vanaand of môreoggend kry ek ‘n; “Nee, eers Maandag oggend”
“Watter dag is dit dan vandag my kind” begin ek so half onseker met ‘n straight poker face uitdrukking.
“Dis Saterdag, Pa!”
Hey, hey, hey! Het julle al ‘n Kaapse Klopse uitvoering, of ‘n one man show reëndans in ‘n gang gesien? Wel dit was ‘n mengsel van die twee soos my vreugde geen perke geken het nie. Sjoe, was daardie naweek darem vir jou lekker lank!
Wat verkeerd gegaan het “upstairs” weet ek nie, maar iewers het drade gekruis en ‘n paar fuse is in die proses geblaas.
Ek het gedink ek sou my hartseer uit my verlôre vakansiedag kon skryf, maar ek word alweer herhinner Maandag is steeds nie ‘n vakansiedag nie, Net Woensdag. In elkgeval, al is daar nie ‘n vakansiedag Woensdag nie, ek is reeds finaal geprogrammeer om vakansie te vat. Maak nie saak of ek voor die rekenaar sit en of ek op die sypaadjie sal sit nie. My mind is made up!
So gepraat, dis nogal interessant om te lees van Paulus se probleme wat hy ervaar het by die gemeente in Korinte. Hier in 2 Korintiërs 11:4 stel hy dit so; “Ek sê dit omdat julle so maklik daarmeë genoeë neem as iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ‘n ander gees en ‘n ander evangelie aan as die wat julle van ons ontvang het.”
Ongelukkig gebeur dit vandag nog net soos voorheen. Angus Buchun skryf in sy boek, Is Jesus enough?, dat dit gebeur wanneer iemand aanvanklik in die Gees begin, maar later opeindig in die vlees. Wanneer predikers en evangeliste hulle passie en fokus verloor het, maar nog steeds ‘n show het om te run. Of wanneer hulle so besig word met die dinge van die Here dat hulle die Here van die dinge begin misloop.
Enige aksie wat nie Gees deurweek of Gees vervuld is nie, kom nie van die Here nie, maar vanuit die ou natuur.
Godsdienstigheid teenoor Dissipelskap in Jesus verskil hemelsbreed.
Johann