Ek lees onder ons Interesting facts van ‘n cesium atoom wat oor die nege biljoen slae per sekonde slaan in ‘n atoom horlosie.
Ek is eerstens bly en hoef nie daai horlosie te olie nie, wat nog meer op te wen. Uitmekaar haal is buite die kwessie. Dink gou aan die sprokies karakters waar so ‘n horlosie so met ‘n twêng geluid ‘n veer uitskiet. Nou fokus weer op ons atoom horlosie. Daar sal nie ‘n twêng as een van hierdie atome sy konsentrasie moet verloor nie. Hurricane Karina sal lyk soos ‘n vervelige Karoo dwarrel windjie net na 12H00 op ‘n somersmiddag. Daai wat jou eintlik net irriteer met stof in die oë.
Ek lees die beginsel van hoe hierdie horlosies werk word daarop baseer dat hulle die vloeibare cesium verhit in ‘n oond wat ‘n gaatjie inhet, en waaruit hierdie atome met groot snelheid kan ontsnap. Soos die klomp warm goetertjies by daardie gaatjie uitblaas, word die spoed gemeet en dan word dit aan tyd gekoppel. Die slegte nuus vir jou en my is dat daardie verklaring van hulle tyd so besaai is met desimale en (soos dit vir my lyk) spelfoute, dat selfs nie eers die Pous dit sal kan verstaan nie. Hulle praat van resonante frekwensies, isotope van atomiese massa 133 (“Cs-133”). Ek noem maar net ‘n paar want die res kan mens nie eers uitspreek nie. Ek dink amper daar bestaan nog nie eens woorde in hôgere Afrikaans daarvoor nie. Inteendeel as jy dit dalk sou waag om intellegent te probeer klink in geselskap mag hulle jou dalk net Weskoppies toe stuur, sonder die opsie van parool of ‘n daaglikse uur oefening in die son.
Wat is die prys?
Om oor ‘n periode van 300 jaar hulle horlosie tot op ‘n sekond korrek te kan monitor.
Bravo!
Dis seker nou nie net daarvoor nie, maar soos ek sê, dis al wat ek kon verstaan en omskakel na moderne Afrikaans…
Weet jy, ons is soms ook so besig om presies te wees en onnodig tyd verspil met onbenullighede wat einlik geen voordeel vir ons inhou nie. Soms in ons geestelike lewens maak ons dit ook so moeilik om Jesus te geniet. Sy onverdiende genade net te aanvaar en Sy seëninge te ontvang. Ons loop rond met ‘n “ek is dit nie werd” houding.
Het jy dalk nodig om net vandag net weer jou omstandighede daaraan te herhinner dat jou Vader die Skepper is. Dat jy nie oorgelewer is aan jouself nie, dat Jesus reeds vir jou die prys betaal het, dat jy vandag in vrede en voorspoed kan leef .
Mag jy instaat wees om vandag te besef, hoe hoog, wyd en diep die liefde van Jesus vir jou strek. Mag jy vandag vervul word met die Heilige Gees en die volheid van God ervaar. Mag jy besef dat Jesus se krag wat in jou werksaam is oneindig meer kan doen as wat jy ooit kan dink of voor kan bid. Aan Hom kom toe al die lof en eer.
Johann