Joh 12: 24-26 : “…As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.”
Matt 16: 24,25 : “Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”
Vir die algemene persoon wat hierdie gedeelte lees bring hierdie veel meer ‘n boodskap van jy moet dit of dat doen of… Dit kan selfs geinterpreteer word met nog een van vele (onbereikbare) vereistes gestel.
Hierdie hou egter die sleutel tussen om gelowig te wees aan die een kant, en ‘n dissipel van Jesus aan die ander kant. Tussen ‘n godsdienstige bestaan en ‘n lewe waar Jesus jou ‘n geesvervulde lewe laat lei. ‘n Doellose gewoonte-vormende voetsleep teenoor ‘n kragtige werktuig in die hande van God.
Ons het onsself en is oor die jare al so gekondisioneer (van generasie tot generasie), dat ons net elke dag ons Bybel moet lees en darem ‘n gebedjie moet opsê, sonder versuim elke Sondag in die kerk moet wees, Sondagskool mag NIE gemis word nie, en jy moet definitief aangeneem en voorgestel word. Wel dan is elkeen vir homself. Die presiese woorde van ‘n dominee was eintlik :”Ons kan die perd net tot by die water bring.” Die kerk het sy plig gedoen om jou tot hier te bring. Ons koppe was volgeprop met geskrifte en belydenisse. Luister jy voorts na vele argumente oor kontroversiële onderwerpe is dit individuele opinies en standpunte wat seëvier. Die wysheid van die mens self.
Oorerwing het ‘n “monster” geskep wat bekend staan as godsdienstigheid. Dit laat ons nie veel beter lyk as die Farisieërs van ouds nie. Al verskil is dat ons wel glo dat Jesus ‘n werklikheid is.
Die beginsel van die koringkorrel wat sterf hou die sleutel tot baie van die uitsprake wat Jesus gemaak het. Hoe gaan jy werklik jou medemens liefhê, of vergewe as jou hart nie aangeraak is nie?
Daar moet ‘n dag kom waar jy ‘n “make over” kry. Eintlik is die proses net nooit voltooid nie, want langs die pad beur die ou korreltjie baie keer terug, en is dit ‘n dag tot dag besluit. Voorts kan hierdie ook net begin plaasvind wanneer jy die Here die reg in jou lewe gee.
En dit kan ‘n vreesaanjaende idee wees. Om Jesus die reg te gee om jou hele lewe te kan omdop…? Om jou ‘n nuwe hart te gee met nuwe idees is nog OK, maar om beheer oor te gee?
Wel ten minste was dit vir my traumaties. Om my huis en my motor aan die Here te gee was nog OK, maar toe ek my vrou en my kinders aan Hom moes gee, was dit my vrees dat ek nou getoets gaan word of ek werklik dit aan Hom gegee het of dat die Here nou vir my na Afghanistan sou stuur as sendeling…..
Wel meer as 10 jaar later kan ek getuig dat die Here nie vir my getoets het daarin nie. Vandag besef ek dat dit veel meer ‘n uitverkopenheid is as wat dit ‘n toets moet wees. Dit gaan daaroor dat ons in onsself moet sterf sodat Jesus die volle beheer kan kry oor alles, elke gedagte, elke aksie, elke behoefte, elke versugting.
Situasies wat oor ons pad kom is ‘n geleentheid om jou wortels dieper te skiet. Om te groei in jou verhouding. Jesus ken jou beter as wat jouself ken, Hy het nie nodig om jou te toets om iets te bewys nie. Ek dink die leerproses het baie te doen om ons te help om geestelik te versterk sodat ons ons maksimale potensiaal op aarde kan bereik om ‘n verskil vir Sy koningkryk te maak en om maksimaal uit ons tyd op aarde te haal op alle gebiede. Vrede te ervaar en voorspoed te beleef.
As ek dan nie leer om die Here te vertrou nie sal ek mos altyd my eie heil probeer uitwerk of hoe? Soms moet ons weer om die berg gaan. As ons iets nie reggekry het nie, gaan ons waarskynlik weer die vak moet her.
Daarom is dit so belangrik dat ons in onsself moet sterf. Ons moet ophou om ons eie paadjie uit te kap.
‘n Koringkorrel dra al die DNA van sy moederplant. Kry jy vandag ook Jesus se DNA en groei tot volwassenheid in Hom.
Johann de Jager