“Who am I?”

number0809

Ek het geen idee nie. Hoekom die man nie eerder in sy ID boekie kyk nie, of dalk eerder vir sy vrou vra “who he is” nie, sal ek nie weet nie. Een ding is verseker, ek sal nie my motor se nommerplaat (soos syne) laat druk met dié woorde op nie.

Wel, dit is ‘n “fancy” kar, maar dat iemand daarin ry en wonder wie hy is, is vir my een te veel. Inteendeel dit is nou al ‘n hele week later en ek wonder nog steeds wie die ou is.

Ek was amper lus en ry agter hom aan en sodra hy stop vir hom te sê: “My ou mater, ek het geen idee wie jy is nie. Kan jy nie dalk vaagweg onthou wie jou bure was nie, of jou vrou se nooiensvan of net ietsie nie, want ek is bereid om jou te help soek na wie jy nou regtig is”.

Dink hieraan, hy word afgetrek deur ‘n verkeersbeampte vir spoed. “Wie is jy meneer?” Al wat hy doen is om te frons,  sy skouers op te trek en na sy nommerplaat te wys. Hy hoef nie eers te praat nie…

Dalk het die man sy naam weggegooi. Wie weet? Dalk het hy dit in die kroeg verloor, nie dat ek voorstel hy diep in die bottel moet kyk daarvoor nie…  Dalk het hy dit op ‘n weddenskap verloor? Dalk met ‘n oneerlike saketransaksie. Ek en Zelda het nou al die scenario’s al deurgetrap. Al die antwoorde vir die man oorweeg, maar ons sit met ‘n probleem; ons weet ook nie wie hy is nie!!

Nou ja, die man weet eintlik presies wie hy is. Die nommerplaat het eintlik ‘n baie duidelike boodskap. “Weet jy wie ek is?  Ek is die ou wat hierdie motor besit. Ek is die een wat gearriveer het.”

Kan jy onthou wat sê Paulus daarvan? Moet daarom nie vir die Satan ‘n kans gee om jou op hierdie aarde ‘n gevoel van “Who am I” te laat ervaar nie. Dit gaan nie oor ons nie, dit gaan oor Jesus. Dit gaan nie oor wie ek is nie, dit gaan oor wie ek in Jesus is. Ek is ‘n Koningskind, ‘n begenadigde, iemand vir wie Jesus ook gesterf het.

En jy? Weet jy wie jy is?

Johann

Scroll to Top