Op ‘n pad wat ons gereeld ry is daar ‘n kerk wat tans besig is om vir hulle gebou op te rig. By tye lyk dit of die bouwerk lank stilstaan, ander kere sien mens sommer in ‘n week hoe hulle gevorder het.
Ek vermoed die gemeente is dalk besig om dit kontant te bou, daarvandaan die neiging dat dit soms wil voorkom asof dit stilstaan.
Maar dis nie die bouwerk waaroor ek wil skryf nie, dis die advertensiebord voor die gebou. Die eerste keer wat ek dit raakgesien het was die bouery dalk ‘n maand of drie aan die gang. Dit was verlate, geen mens in sig en van die mure het net-net hulle eerste paar lagies bakstene opgehad.
Die groot bord na aan die pad het dit uitbasuin : “Tot hier toe het die Here ons gehelp”
My eerste gedagte was: “Het die Here opgehou met help en is julle nou op julleself aangewese?” En so in my humoristiese geestesoog sien ek die einste bord waarop iemand met ‘n verfkwassie verder twee woorde aangelas het; “…donasies welkom!”
Nou ja, dit was vir seker nie hulle gesindheid met daardie bord nie, dis sommer my stoutigheid wat humor uitsnuffel.
Wat ‘n verklaring om ten aanskoue van die wêreld te maak; Watter geloofstap vir daardie gemeente om te neem.
Vandag is daardie gebou nog nie klaar nie, maar die bouwerk lyk amper voltooi te wees voordat hulle die dak en die binnegoed begin doen. (en steeds sien jy niemand op die perseel nie)
Maar hulle staan onverskrokke in wat hulle bely. So asof hulle self daar langs die pad staan en met die duim so oor hulle skouers agtertoe wys en verklaar; “Jy in die motor; kyk ‘n bietjie hoe help die Here ons!”
Ek wonder of hulle ooit besef dat hulle ander mense ook onbewustelik kan bemoedig wat dalk week vir week daar verby ry en sien “tot waar die Here vir hulle gehelp het”
Ek dink nou net aan iets; Hoekom sien mens dan geen siel, bouer, voertuig, gereedskap of enige boumateriaal daar nie. Nie eers rommel is daar te bespeur nie. Dis asof die gebou uit die niet verskyn…
Johann de Jager (ministriesworldwide.net)