Haal meer uit die lewe op aarde

brief0309

Gedurende ‘n grenskamp in 1989 word almal deur die dominee aangemoedig om huis toe te skryf want die mense by die huis kla hulle nie weet wat aangaan en of hulle mense darem nog “oraait” is nie. Huistoe skryf was vir my altyd lekker en ek het altyd elke dag ‘n bladsy of twee geskryf en dan met een brief so ‘n hele oorsig gegee van dinge daar bo. My briewe was altyd positief want ek wou beslis nie nog vir Zelda meer bekommerd maak as wat dit nodig was nie.

Groot was my ontnugtering toe ek uiteindelik by die huis aankom en bespeur my “positiewe” briewe is so gesensor dat geen mens kop of stert kon uitmaak wat daar geskryf staan nie. Arme Zelda kon maklik die briewe aangesien het as iemand wat probeer verbloem dat ek reeds raakgeskiet is en nie die boodskap per brief wil deurgee nie, dat ons reeds gevange geneem is en hulle nie wil sê waar ons is nie, of alternatiewelik dat ek bossies was en onsamehangend geskryf het. Jou goeie bedoeling kon dalks verkeerd geinterpreteer word en i.p.v ‘n heldeontvangs tuis, kon ‘n vet klap dalk jou voorland gewees het…

Die sensorwerkie is aan die dominee oorgelaat en ek wonder so by myself watse stories en woorde voor sy oê verby gevlieg het in die periode. Wat nogal interressant was is die spoed waarteen briewe heen en weer getrek het. Ek dink die rekord tussen Bloem en Okatopi was 3 dae vir ‘n brief. As jy so aan die brief geruik het, het jy nog die “tyre” merke op die pad geruik….

Ek is dankbaar dat wanneer ons in gebed na die Here toe gaan, daar geen “sensoriese” uitwerkings is nie. In teendeel, daar is selfs niks wat ons kan wegsteek voor die Here nie. Alles is reeds aan Hom bekend en selfs dit wat ons self nie eers weet nie. Die diepste bedoelings van die harte is ontbloot in Sy teenwoordigheid.

Daarom kan ons regtig met vrymoedigheid na Hom toe gaan, net soos ons is, in watter emosionele toestand wat ook al, want ons weet dat God nie na ons “performance” kyk nie, maar na ons harte. Jou bedoelinge, versugtinge en jou motiewe is daarin opgesluit. En dit is net God wat alles daarin kan beoordeel. Die mens kan nie eers enige iemand anders se hart beoordeel nie, want hy is gebind aan die uiterlike wat hy sien om daaruit ‘n afleiding te probeer maak.

Eendag as die Here weer kom, glo ek, gaan Hy reguit na die hart toe gaan. Met jou mond het jy bely maar met die hart het jy geglo, met die mond het jy dalk “stupid” goed kwytgeraak en mense dalk seergemaak, maar net die hart kan die onskuldige bedoeling daarvan aantoon. Met die mond is sulke mooi beloftes gemaak, maar die hart ontbloot die valsheid wat daar skuil.

‘n Hart word van binne af gesond gemaak. Die bloed wat deur dit vloei en dit voed moet nie gifstowwe en colestrol bevat nie. Bloedvate moet oopgemaak word en dalk een of twee moet vervang word.

As jy dalk in ‘n greep van godsdienstige roetine vasgevang is, (jy gaan kerk toe want dit is hoe dit hoort en hoe jy grootgemaak is, jy lees getrou elke dag een of twee versies uit jou Bybel, maar die werklikheid van Jesus Christus, die betekenis van Sy kruisiging en die werklikheid van ‘n persoonlike verhouding met Jesus ontbreek) moet jy dalk vir ‘n oomblik gaan stilsit en ‘n geestelike voorraad opname doen.

Kry dan ‘n nuwe hart, Jesus se hart en haal meer uit die lewe op aarde en terwyl jy besig is daarmee, kry sommer ‘n waarborg vir die lewe hierna.

Johann

Scroll to Top