Dit slaan diep binne my hart. Die pleidooi is soos growwe skuurpapier; jy voel dit oor jou hart se kamers beweeg. Die pyn lê vlak en my moed sink eintlik vêr na benede.
Hoe sê jy vir iemand, “alles is OK” as dit nie is nie? Hoe bemoedig jy vir iemand as jy soms self voel daar kom nie ‘n einde aan ellende nie?
Ek besef vandag, dis maklik om te praat uit die gemaksone van genoeg. Genoeg kos, genoeg geld, genoeg klere, genoeg gesondheid, genoeg van alles. Ek wil nie eers verwys na oorvloed nie.
Die man kripeer van hongerte, met versniperde stinkende vuil klere sit hy teen ‘n muur. Emosieloos word hy afgejakker; word daar wye draaie om hom geloop.
‘n Man los sy vrou en kinders en laat haar aan haar eie lot oor. Elke nuwe dag wat aanbreek trompetter ‘n dag nader dat sy binnekort geen dak oor haar en haar kinders se koppe sal hê nie.
“Nee man, vertrou net op die Here”, rol die woorde moeitevry oor die lippe van die “genoeglike”.
“Môre skyn die son weer”, word die woorde ge-uiter sonder om ‘n oog te knip.
“Jy weet jy mag nie twyfel nie”, val die beskuldiging sonder skroom.
Intussen loop die uurglas leeg.
Vertroue en geloof in God gaan soms gepaard met slapeloosheid. Met ‘n naarheid wat nie wil weggaan nie. Selfs depressie. Soms verloor mens jou vrede en voel dit vir jou God het jou lankal nie meer in sig nie, jy is oorgelewer aan jou eie genade.
Eendag sal ons waarskynlik besef dat dit juis die tyd was dat God ons in Sy arms gedra het. God staan nie koud teenoor ons nie. Ons het ongelukkig nie die vermoë om dit altyd te verstaan nie. Ons besef nie dat ons trane Sy kleed deurweek nie, dat Hy ook empatie het met ons omstandighede nie. Hy het reeds op Golgota bewys dat Hy lief is vir ons. Ons kan God nooit ten volle verstaan nie, maar wanneer daar niks hoop oorbly behalwe God se genade nie sal Hy ons die krag gee om deur ons situasie te kom. Die moed en vrede wat by tye oor jou spoel is maar net God wat jou ‘n drukkie gee voor Hy jou verder dra.
Vader, ek bid vir elkeen wat moedeloos is,
wat voel om tou op te gooi.
Ek bid dat U verheerlik sal word en ons verbaas sal staan
as ons U almag en bonatuurlike werking beleef en aanskou met ons eie oë.
Spreek die woord Here, want die heelal en alles daarin behoort aan U.
U is God en ons aanbid U, Amen
Johann