050505

Soos my natuur maar is en soos jy seker reeds lankal al agtergekom het, is ek nie een wat noodwendig tevrede is met bladuitleg nie. Dis asof ek elke keer iets beter sien en dit vir my beter lyk as die bestaande. Om veilig te speel, probeer ek myself n paar dae kans gee. Wanneer ek dan teruggaan is dit asof mens met nuwe oë kyk na iets, jy beter kan skep en meer kreatief is. En aan die anderkant, soos mens maar jou programmatuur beter leer ken kan jy net nog meer skeppend word met tyd.

Wel so sit ek mos toe en skep en ek besef die logo pla. Ek sukkel met die datum, dis so asof dit nêrens wil pas nie, dan skuif ek dit hiernatoe, dan daarnatoe, dan op hierdie lyn, dan agter daardie lyn. Ek is nou nie heeltemal seker nie, maar ek vermoed ek het gesien hoe die syfertjies hulle kop begin skud in ongeloof. Kan hierdie ou nie sy mind opmaak nie glo ek, wil hulle amper al skreeu.  Ek bring vir hulle maatjies, ek vat weer die maatjies weg. (Ek dink ek hoor hoe een sê: “Thats it, I give up – I’ve had it!” Hulle praat Engels want Coreldraw (die grafiese program wat ek gebruik) is in Engels. Natuurlik met ‘n Amerikaanse aksent daarby…

Dis toe ek besluit: Basta Hulle moet op die logo kom daar regs bo en klaar. (Dalk het ek myself kreatiewelik uitgebrand) Ek verander die datum. 05/05/05.

05/05/05 Meteens besef ek hierdie kombinasie sal hom nooit weer herhaal nie, dis net een keer per jaar dat so iets kan gebeur. Dis verby, ek kan dit nie weer verander nie. Ek dink aan soveel finaliteite wat kom in ons lewens, kanse wat verbrou word en jy nooit weer die kans kry om reg te maak nie. Daardie een keer wat jy nog ongesond eet, die hartaanval wat jy kry en dis verby, daardie een keer wat jy nog n kans vat en dis verby.

Terwyl ek hier sit en tik en jy daar sit en lees, besef ek dat ons nog n kans het, ons kan nog regmaak, goed doen aan ‘n ander, lewe saai met woorde. Ek kan dalk nog die telefoon optel en dinge uitsorteer, wie weet wat nog. Kom ek en jy leef vandag met n gesindheid wat n verskil maak.

Johann (2005)

Scroll to Top