Blatante eerlikheid

blatant2708

Jy sien sy motiewe sommer met die eerste oogopslag. Daardie kyk in sy oë draai geen doekies om nie. Jy kan maar voorgee dat hy nie bestaan nie en selfs geen verdere oogkontak maak nie, maar daar is geen manier dat jy nie gekonfronteer gaan word nie.

‘n Paar jaar gelede word ek vir ‘n ses geslaan in Petrusville. Ons was besig met voorbereiding vir ‘n musiekevangelisasie uitreiking toe ons stop by ‘n kafeetjie vir koeldrank.

“My Lanie” skop hy af.

“Kan ek asb net iets vir jou vertel?”

Hy sê : “Jy weet, my Lanie, dinge is baie tuff hierdie dae. Ek het ‘n kind in die skool waarvoor ek moes klere koop. Verder moet ek kos op die tafel bring. Jy weet, hierdie goed is baie duur en my geld is op”

“Ek wil graag vir my net ‘n six pack koop. Wil jy nie asb help nie?”

Ek is sprakeloos en help sowaar die man in sy kwaad! (dalk moes ek eerder vir hom ‘n krat melk gekoop het…)

Die man het nie doekies omgedraai nie, hy was blatant eerlik oor sy behoefte.

Dit gaan veel dieper as dit. Eerlikheid het een vername eienskap. Dit maak vry. Vry van skuldgevoelens, Vry van emosionele bindinge. Dit bring heling. Breek mure af. Bou verhoudings. Gee nuwe geleenthede.

Solank as wat jy nie eerlik is nie, is jy ‘n slaaf, ‘n gevangene, vasgeboei in kettings.

Die Woord sê nie verniet, “Die waarheid sal jou vry maak” nie.

Johann

Scroll to Top