Twee of drie keer per week bespeur ek die nors mannetjies op my tafel. Hulle is gewoonlik alleen. Hulle houding stink, hulle mors my tyd en irriteer my grensloos. Hoekom hulle my tafel kies, weet ek nie, hoekom hulle nie dalk in groepe kom nie, weet ek nog minder. Pleks daarvan dat wanneer hy op my tafel beland, sy plig kom uitvoer of “what ever” hy ook al moet doen, drentel hy soos ‘n beer met ‘n seer tand. Of nee, hy lyk eerder soos ‘n oorgewig meerkat in die oggendson.
Ek vermoed die testosteroon belaaide miere is dalk verkenners wat vooruit gestuur word om die land, my tafel, te kom verken. Ongelukkig maak nie een van hulle dit terug huis toe nie want ek vat nie die kans dat een van hulle dalk net eendag besluit om iewers tussen ‘n hempsmou of broekspyp op te klim nie.
Wat ek moet bely is hulle deursettingsvermoë. Hulle hou net nie op nie, en as ek my kry is daar weer een ‘n dag of wat later. Dit laat my wonder of jy dalk vandag ‘n uitdaging het waar jy op die nippertjie is om dalk bes te gee. Jy het dalk reeds moed verloor?
Dan wil ek jou bemoedig om vas te byt. ‘n Storm kan nie vir altyd woed nie, die son sal en moet deurbreek. Dalk is vandag net die dag wat die son sy verskyning maak en jy die sukses proe en die deurbraak belewe.
Kyk terug en jy sal net een ry spore sien, nie joune nie, maar wel Jesus wat jou dra.
Vader U Woord sê U ons nooit sal verlaat of weggooi nie. Dankie dat ek veilig is by U. Ek bid dat U my deur hierdie dag sal dra en ek die son sal sien deurbreek. Amen
Johann de Jager (Ministriesworldwide.net)