Eendag oppad terug na Bloemfontein stop ek en Zelda gou vir ‘n koffietjie in Graaf Reinette. In ons soektog om ‘n parkering te vind naby die Wimpy is die self aangestelde motorwag hopeloos een te veel vir my. Soos dit vir my lyk is vandag die eerste keer dat ek my hande aan ‘n motor se stuurwiel sit, wat nog te sê my eerste parkering. Ek kon net sowel my motor se stuurwiel gelos het – ek dink hy het bestuur, ek was net die passasier, of so het dit gevoel.
Ek maak ‘n skoon breek en jaag om my eie parkeerplek te identifiseer, aan die anderkant van die pad. Ek is egter te laat. Security Galore Services is laaaankal reeds op sy plek en ek kan al weer nie bestuur nie…
Hy begroet my met ‘n breë glimlag toe ek uitklim. (Miskien was dit ‘n interne gebaar aan homself : “so maklik kom jy nie weg nie”)
“Nee dankie, Jesus sal sommer my kar oppas” is my geïrriteerde antwoord op die aanbied van sy dienste.
“Ek is ook maar hier rond”, laat wag hy nie op homself nie.
Ek en Zelda skreeu histeries van die lag. Miskien is dit die droeë manier hoe hy dit gestel het.
Afgesien van die snaakse manier van hoe hy dit gesê het is dit juis dalk een van ons grootste probleme as Christene. Ons is ook maar hier rond en kyk uit vir onsself, net ingeval die Here dit nie volgens ons verwagtinge doen nie. So amper of ons ‘n veiligheidsnet wil uithou vir net ingeval.
Laat los jou planne en aanvaar dat Jesus net die beste intensies het. Draai eerder keer op keer jou vrese in afhanklikheid na Hom. Laat Hy jou gerusstel en jou vorm in ‘n ambassadeur vir Sy Koningkryk. Ons lewe op aarde is niks in vergelyking met die lewe wat vir ons saam met Hom wag nie.
“Let go and let God”
Johann