Onlangs by die gym loop ek iemand raak. So met die nuwejaar se “voorspoedwensery” sê sy sy wil hierdie jaar hoog vlieg soos ‘n arend. Sy is nou moeg om op die grond rond te skrop soos ‘n hoender.
‘n Ander boodskap wat vir my ook pragtig was, was: “ Attitude Determines Altitude”
My gesindheid en toepassing gaan bepaal of ek in die stof gaan rondskrop en of ek met arends vlerke gaan sweef.
Met die hittegolf tans in Bloemfontein lyk meeste van ons teen middagete meer soos platgetrapte kwartels. Iemand wonder of dit die hitte is en of die vakansie dalk te kort was?
Hoe dit ook al sy, die liggaam sal moeg raak, maar die Here sal ons kragte laat hernu. Wat belangrik is is jou gesindheid.
Soos daar in Romeine geskrywe is, vra Vader om jou gedagtes te vernuwe en as jy afgemat raak, maak jou oë vir ‘n oomblik toe en rus soos ‘n klein kindjie op Jesus se skoot. Visualiseer dit, en spreek lewe uit oor jouself, jou kinders, man of vrou, die persoon langs jou, jou baas.
Laat jou lippe gedurig lof aan God bring, dan sal jy spoedig sweef soos ‘n arend en vêr verwyder wees van rondskrop tussen die verlepte blaarslaaie.
Johann de Jager