Bergpiek

goldengate

Jare gelede het ons een naweek Golden Gate in die Oos Vrystaat besoek. Daar is die lekkerste voetpaadjies wat ‘n mens kan volg. Een van hulle en as jy tyd het (dalk moed ook inbring) is om oor die berg te loop. Dit is (geskat) so ‘n vier uur staptog. Hierdie was vir Jonè (wat nog bitter klein was) net iets wat eenvoudig gedoen moes word. Wel die ander helfte van die familie het hierdie ding net een oorweging gegee en besluit dit is nie vir normale mense om te doen nie. (Hulle het hulleself toe as normaal beskou…)

Ek en Jonè het hierdie staptog met geesdrif aangepak. By tye wou sy selfs aan die hardloop gaan want sy wou by die piek uitkom, dit moes soos in nou wees. Hier van onder af was die piek juis iets wat jou verbeelding aangegryp het. Dit was ‘n ander wêreld daarbo.

Stadig maar seker het ons die berg bestyg. Meter vir meter het ons al hoër geklim. So driekwart oppad boontoe het ek begin besef hoekom normale mense nie kans sien daarvoor nie. Ai, hoe het ek op daardie oomblik gewens om ook normaal te wees. Ek het een probleem gehad; of ons nou die guts het om aan te gaan of moed opgee en besluit om terug te draai, dit gaan naastenby dieselfde tyd vat om terug te gaan.

Op hierdie stadium was daar wolke wat die piek bedek het. Dit het nou regtig al Jonè se verbeelding aangegryp. “Zelka gaan my nie glo nie. Ek gaan in die wolke loop. Pappa kan ek nie gou ‘n emmer gaan haal waarmee ons vir Zelka van die wolke kan saamneem nie? …Zelka gaan my nie glo nie…”

Uiteindelik is ons binne die wolke, en natuurlik kan die wolke nie met ‘n emmer geskep word of gevoel word of wat ook al nie. Was dit nou vir Jonè ‘n teleurstelling! Na ‘n vinnige Aardrykskunde les uit die jare ’70 het sy soort van verstaan. (Ek glo wolke werk deesdae nog soort van dieselfde)

Net soos Jonè die misterie van die wolke van onder af bewonder het en net daarop gefokus het, so skryf Paulus in Kol 3:2, moet ons ons gedagtes rig op die dinge wat daarbo is en nie op die dinge wat op hierdie aarde is nie. Hoekom nie? Want ons het gesterwe en ons lewe is nou saam met Christus verborge in God.

Wanneer ons dan ook ons gedagtes rig en ons hoop vestig op Hom word ons gevul met nuwe moed en nuwe krag. Wanneer ons toelaat dat die dinge wat in die wêreld gebeur ons meesleur en vashou, sal ons nie in staat wees om in oorwinning te leef nie.

Kyk daarom op na die Een wat by magte is om ‘n woord te spreek en dinge te laat gebeur.

Johann

Scroll to Top