As daar nou een ding waaroor ek nie argumenteer, meriete oorweeg, motiveer, bepeins of wat ook al nie, dan is dit elektrisiteit. Nie die wat die TV, ketel, rekenaar ens aandryf nie, maar ‘n oop draad.
Die soort waar jy ‘n elektriese prop moet aansit aan ‘n kabel en veral (juis) iets soos ‘n elektriese omheining. Dit help nie jy bevestig die krag is afgesit nie, en selfs nog minder as ek self die krag afgesit het. Ek aanvaar nou maar net nie die krag is af nie. ‘n Eenvoudige omruil van ‘n gloeilamp is voorts iets wat ek met agterdog bejeën. Ek knyp selfs my oë toe!
Een aand is ek en ‘n maat van Jonè buite en hy begin vrae vra oor die elektriese heining en die volts of amps (wat ook al..) wat die heining opwek. Ek bied aan om te demonstreer. Ongelukkig is daar net ‘n los teël wat teen die muur staan. Nou probeer ek die drade aan mekaar laat raak (Die Engels klink in hierdie geval vir my meer na Afrikaans : om die drade te “short”) met hierdie teël.
Net een probleem; die drade “short” nie en daar is geen vonk nie. Met elke probeerslag trek ek my oê op ‘n skrefie en draai my kop sywaarts. Vir vreemdelinge wat my dalk op ‘n afstand dopgehou het, kon waarskynlik tydelik onder die (valse) indruk verkeer het dat ek met dinamiet gespeel het…
Wat elektrisiteit ongelukkig betref, probeer ek geensins my manlikheid bewys nie – hulle kan maar dink wat hulle wil. As jy al ooit deur elektrisiteit “gebyt” was, weet jy die onmiddelike uitdrukking op jou gesig is alles behalwe een van bravade, inteendeel dis meer van uiterste verbasing!
Daar was uiteindelik fout met die drade op ‘n ander plek en agterna kon ek uiteindelik my demonstrasie lewer. (met toe oë en al)
In Joh 1:12 staan daar geskrywe “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo”As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser, leef dan met daardie wete dat jy ‘n Koningskind is. ‘n Kind wat God sonder twyfel sal beskerm en sal versorg. Iemand wie se belange op ‘n Goddelike hart gedra word. Iemand wie se stem in die Troonkamer aangehoor word.
Jy is nie onderhandelbaar nie – jy is Sy kind.
Johann