Anders as waar die betekenis van hierdie opskrif ‘n voorwaarde vervat dat jy iets sal doen om jou liefde te bewys, het ek oor die jare geleer watter verantwoordelik ek teenoor Zelda het wat my liefde vir haar betref. So raak mens maklik gewoond aan jou maat en net so maklik raak jy onbedagsaam en ongevoelig teenoor hom of haar se behoeftes. Gewoonlik loop hierdie uit op ‘n rusie om dan maar net weer die siklus te herhaal verder af in die pad.
Aanvanklik sou ek ek vir Zelda verkwalik oor sulke tipe opmerkings. “Ek is mos nie iemand wat ontrou is, of wat elke aand kuier of nie dit of dat nie—ek is mos lief vir jou?” was een van my antwoorde. Dit laat my dink aan die grappie waar die vrou vir die man gevra het hoekom hy nie vir haar sê dat hy haar ooit liefhet nie. “33 jaar gelede het ek vir jou in die kerk gesê dat ek vir jou liefhet. En totdat ek eendag sê dit is nie meer so nie, bly dit onveranderd!”
Met die verloop van tyd het ek tot die besef gekom dat dit dieper gaan as bloot ordentlikheid en bedagsaamheid. Dit het gegaan dat ek haar nie wou teleurstel nie. As ek ‘n keuse moes maak wat my vrou tweede in my lewe sou stel, was dit belangriker om myself eerder tweede te stel en haar belange eerste te stel. Hierdie was gewoonlik nie groot “issues” nie, net eenvoudig ongerieflik. Was ek nog steeds lief vir my vrou lief ten spyte dat ek haar tweede sou stel? Ongetwyfeld. Ongelukkig kon Zelda nie dieselfde sê nie—dis hoe sy dit ervaar het.
My Christen-lewe het ongelukkig al baie dieselfde paadjie geloop. Menigmaal moes Jesus maar agter in die ry staan wanneer dit by my behoeftes kom. Het ek Jesus geken? Ongetwyfeld. Het Hy al baie die “scraps” gekry, dit wat oorgebly het? Ek is te skaam om te antwoord.
Ek is Jesus so dankbaar dat Hy nie dieselfde met my doen nie. Ek sou maar sleg tweede gekom het. Ek dink aan ‘n skrifgedeelte waar Jesus die opmerking maak en sê. Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy My woord bewaar, en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Ek sukkel om verder aan die skryf te kom. Ek soek woorde om die teksvers anders te stel, dalk ‘n bietjie sagter, dalk ‘n bietjie meer motiverend. Soontoe, dalk hiernatoe…
Dit is nie ‘n dreigement deur Jesus nie, dis realiteit. As ons vir Jesus liefhet sal ons die behoefte hê om Hom eerste te stel. Ek interpreteer dit nie as moets en moenies nie, ek interpreteer dit om ‘n strewe te hê, met God se genade en my bereidwilligheid, ‘n gesindheid te ontwikkel wat op Sy Woord geskoei is, ‘n gesindheid om Hom tevrede te stel met my lewenswandel. Om myself uit te verkoop aan Hom. My eie ek te kruisig en om in myself te sterf.
Ek en Glenn Forbes drink een middag in ‘n koppie koffie en praat so oor die Here. Ek vertel hom van my kêps wat Zelda vir my gekry het. Dit lees : “Alien—1Pet 2:11”
Hy sê hy wil een maak wat lees : “Dead Man Walking”. Dan praat hy verder : “I have died, I no longer live for myself, but only for Christ”
Kom ons raak nie dieper godsdienstig om Sy Woord na te kom nie, kom ons fokus eerder om in onsself te sterf sodat Hy ons ‘n nuwe lewe kan gee en Sy Woord op ons harte kan skryf.
Johann