Die fluitende voëltjie

singing051109

My eerste kennismaking met my nuwe maatjie los my met ‘n benoudheid. As die voëltjies begin sing en jy sit nog agter die rekenaar beteken dit die nag is verby en die sonsopkoms is nie vêr nie. Wat jou slaap betref, kan jy maak wat jy wil, jy is in die moeilikheid. Of jy nou gaan slaap of nie, maak nie ‘n verskil nie, die dag wat voorlê is nie een van die maklikstes nie. Daardie dag is jy nie een van die skerpste stukkies gereedskap in die stoor nie.

My nuwe maatjie, kom ek na ‘n tyd agter, begin stiptelik om drie uur in die oggende met my gesêls. Ek dink hy chat spesifiek met my want daardie tyd van die oggend is dit mos doodstil en ek het nog nooit gehoor dat ‘n ander voeltjie terug antwoord nie. ‘n Paar keer het hy my al deur die dag verras as ek sy bekende fluit hoor. Dan wonder ek of die mannetjie nie dalk sy middagslapie kon inkry nie, of dalk sy dag en nag omgeruil het? Feit van die saak is, hy is altyd op sy pos en reg met sy deuntjie, ongeag wie hom antwoord of watter tyd dit mag wees.

Daar is ‘n Engelse liedjie met die volgende woorde;

How Lovely on the Mountain Are the Feet of Him That Brings Good News, Proclaiming Peace, Announcing Joy and Happiness, Our God Reigns.

Dink net hoe wonderlik weergalm hierdie boodskap in die hemele as ons vandag ook goeie nuus bring na ons werk, ons omgewing. Woorde van lewe, vrede, vreugde en geluk. Iemand wat dalk desperaat opsoek na ‘n uitkoms, of wat dalk onder geweldige druk verkeer in jou teenwoordigheid kan ontspanne en vrede ervaar. Jou woorde en handeling impakteer vandag direk op die mense se lewens rondom jou en met die wat jy oor die foon mee in aanraking kom. Laat Jesus toe om vandag in jou lewe te regeer, gee jou hart opnuut vir Hom en laat Hom toe om jou te vorm en te verander om sodoende ‘n massiewe impak te maak op jou omgewing. Wees jy vandag ook soos die voeltjie buite my kantoorvenster wat ek nie meer kan ignoreer nie, wie se sang ek eintlik nodig het vroeg in die oggend om my net weer te herhinner dat ons God in beheer is, dat Hy vandag regeer.

Our God reigns!

Johann

Scroll to Top