Verstand vs Hart

snork1609

Na die derde keer wat ek myself wakker snork op die vliegtuig wonder ek of die “sardientjies” langs my maak of hulle my nie hoor nie en of hulle “genuine” nie hoor nie. Een Groot Makoeloe regs van my is besig om voor te berei vir wat ek skat ‘n interne verhoor aangeleentheid moet wees maar ek probeer fyntjies en ongemerk met verlepte oë sy gesigsuitdrukking ontrafel vir enige teken dat hy my dalk gehoor het. Gelukkig het ek darem elke keer my keel skoongemaak so asof ek presies weet wat ek doen en in totale beheer is van elke aksie (…en geluid!)

Ek is wawyd wakker en nou probeer ek die snork naboots om te probeer vasstel of die ouens dit dalk kon gehoor het. Met my eerste probeer slag skrik ek so groot (gits!) dat ek nie verder probeer eksperimenteer nie. Ek sien hulle in elkgeval nooit weer nie, “so what”. Wel ek het my naam geruk – dis verseker!. Ek kan al sien hoe hulle hierdie een met smaak oorvertel.

Wel ten minste het ek nie “jy-weet-wat” gedoen nie. Dit sou baie meer ongemak tussen die sardientjies veroorsaak het. Probeer daai een wegsteek… Hierdie is natuurlik ‘n moeilike een in ‘n voertuig vol vreemde mense nê? Solank jy maak of niks verkeerd is nie is jy veilig. Maar maak nou net ‘n venster oop dan wonder die mense; “Maak hy oop omrede hy skuldig en verleë is of het hy hom vervies en kan hy dit nie meer hanteer nie?” Dit kan ‘n ongemaklike stilte (en reputasie) meebring…

(Ek probeer nou ernstig wees, maar ek weet ek het myself nou in die moeilikheid ingeskryf, so ek moet myself seker maar hieruit skryf – hoe weet ek nie en elke probeerslag om ernstig te wees klink vir my maar bra oppervlakkig. Miskien moet jy eers iets anders lees dan kom jy later terug en gaan hieronder aan?)

Eintlik is ek nogal bly ek het nie gister klaargemaak nie. Die opskrif het deur die dag in my gedagtes gemaal en die volgende teksvers het by my opgekom;

Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

Om die Here te dien is nie net ‘n “gevoelsding” nie, nie net emosie nie. Daar is ‘n groot deel logika wat daarmee saamgaan. Soms moet jy gaan met jou emosie, dit wat jou hart vir jou sê, soms moet jy gaan met wat jou kop vir jou sê. Gister het ek dalk op ‘n grapperige manier hierna gekyk maar daar is eintlik ‘n groot waarheid wat hieragter skuil. Dis iets wat in die sakewêreld soms ‘n moeilik ding kan wees om toe te pas en uit te leef.

Wanneer dit kom by God se Woord hoef jy nie noodwendig jou emosie te gebruik nie. Dis logika om daarby te hou en dit te glo. Wanneer die Gees in jou hart in fluister en logika sê vir jou dis stupid om iemand langs die pad op te laai, of te help op ‘n wêreld’s gebaseerde siening, is dit jou hart wat die besluit moet maak. Hier is ‘n ander toepaslike een : As Vrydag die 13de jou dag gaan beinvloed (en jy is dalk nog in die bed), gebruik logika en besef dat God in beheer is van hierdie dag en nie die 13de nie. Bêre jou emosie.

Jy kan nie op alle terreine net ‘n emosionele besluit maak en jou lewe daarop bou nie, so ook nie aan die ander kant nie. Die teksvers bring jou krag en jou siel ook in. Weet jy, dit dui maar weer vir my na net een ding; oorgawe van myself aan Jesus. Om Hom te ken in alle aksies en besluite (logika). Om Hom te vertrou met my lewe (emosie). Om te besef dat Hy in beheer is (emosie). Om goed te doen aan ander (logika en emosie)

Om te weet dat Hy vir my lief is (dis mos obvious!)

Gebruik dan jou logika vandag om dit wat geskryf staan toe te pas en uit te leef, en gebruik jou emosie wanneer Hy jou hartsnare roer. Dien hom met jou hele hart en siel, en span al jou krag in om Jesus elke dag te kroon met die nommer 1 plek in jou lewe.

Johann

Scroll to Top