Zoeloe-impie

running

Ek word so te sê elke dag daaraan herhinner. Dis ‘n beeld wat ek nooit ooit in my lewe sal vergeet nie. Joné (ons jongste dogter) was op daardie tydstip in Graad 7 gewees. Ek het haar die oggend by die skool afgelaai en weggery. ‘n Blok verder moes ek regs afdraai. Ek het sopas gestop vir die aankomende verkeer toe sy aan die venster hammer en skreeu, “My tas!!!!!”

Nou verbeel jou hoe dit in ‘n straat vol motors, kinders en onderwysers moes lyk toe sy met haar hokkiestok soos ‘n Zoeloe-impie in die straat af gehardloop het. Ek kan myself indink hoe iemand die aand by die huis kom en nog fronsend ‘n storie vertel dat hy vandag gesien het hoe ‘n kind saam met motors gehardloop het, en ‘n hokkiestok rondgeswaai het vir die motors om uit haar pad te kom, sy wil verby…

Vir baie weke daarna was die nie vir haar snaaks gewees nie…

Soms sal jy in jou geestelike lewe ook nodig hê om werklik aan te hou en alles te gee selfs al lyk dit asof alles verniet gaan wees. Soms voel dit of jy net inploeg sonder om enige resultate te sien. Ek het geleer dat die manier hoe Vader werk is soms wêreld van mekaar verwyder. Dit staan meestal lynreg teenoor hoe die wêreld redeneer en antwoorde kry teenoor hoe die Here jou antwoorde gee.

Al waaraan ons soms moet kan vashou is nie die resultate wat ek kan sien nie, eerder ‘n houding dat God weet wat Hy doen en dat Hy in volle beheer is van die situasie.

God sal jou nooit vergeet nie.

Johann

Scroll to Top