Hierdie is nou verbeter

washingpowder

Was dit dalk nou een produk wat my lagspiere geprikkel het dan sou ek dalk my mond gehou het, maar ek sit en neem onlangs voorraad van hierdie fenominon genaamd; “Dis beter as tevore”Elke maand of wat ‘pop’ ‘n verbeterde, vernude waspoeier op die skermpie op.

“Nou met verbeterde ensieme”
“Nou met verbeterde vlek verwyderaar”
“Nou met verbeterde witgeit…”

Sjoe! – kom ons neem die prentjie in oënskou; 20 jaar gelede was daardie wasgoed skitterwit. Vandag met 300 verbeteringe in die produk is dit nog net so skitterwit… of nie?

Goed dit is nie al nie. Skeermesse is volgende. Verbeel ek my of rave hulle al vir jare dat húlle skeermesse die gladste skeer. Net om ‘n nuwe een op die mark te bring met 5 lemmetjies wat (genuine!) nou eers glad skeer… Die advertensie kan nie genoeg aandring en demonstreer hoe glad die seun se gesiggie geskeer is nie. Ek verstaan die 5 lemmetjies verminder dalk die kans vir skaaf, want daar is waarskynlik minder wrywing. Maar ek wil weet hoekom sê hulle vir jare al; “Dis die gladste skeer ooit”? As dit 10 jaar gelede die gladste was, wat is dit vandag; ‘n Formule 1 renbaan met olie daarop?

Sjampoe. Moet ek regtig uitwei?

Dink 20 jaar gelede, ek is sóóó oortuig dat ek niemand gesien het wie se hare gelyk het asof hulle pas uit die oertyd ontwaak het nie. Dis nou nie asof ek nooit sulke ouens sien nie, bygesê. Ek sien gereeld ouens wie se hare lyk of hulle dit met ‘n donderbuis gekam het. Al wat kort is die rook wat nog daaruit trek.

Kom ons vat hierdie prentjies 20 jaar vorentoe.

Verbeel jou hoe goed gaan waspoeier wees! Ek dink nie jy sal meer wasmasjiene kry nie. Wasgoed sal nie meer met water gewas word nie. Waspoeier sal so potent wees, jy sal die wasgoed net die boksie wys, net vinnig, want die wasgoed sal hulleself sommer skoon skrik vir alles wat in die bestanddele bevat is…

En hare? Watter hare?

Nou ja, seker nie nê? Ek dink hulle sal maar net hulle produkte oor en oor bemark en slimmer word met advertensies om die aanvraag na hulle produk te handhaaf.

Gelukkig is die Woord van die Here, nog nie een keer oorgeskryf, herontwerp of vervang met nuwe variasies nie. Ek bedoel nou nie vertalings ens nie, ek bedoel nou dat die Here ‘n nuwe hoofstuk bygevoeg het of weggelaat het, of dat die Here die betekenis en beloftes verander of afgeskaf het nie.

Die Woord van die Here staan vas soos dit aanvanklik bedoel is. Dit is net so van toepassing vandag as wat die duisende jare gelede was. Steeds kan ons vashou aan die hoop wat die Woord bely. Geloof wat deur die Gees geinspireer word.

Dis altyd maklik om vas te hou wanneer dit goed gaan, maar wanneer die orkane, aardbewings en tornados van die lewe jou bestaan bedreig, vang jy jouself baie keer uit dat die Woord nie altyd sin maak nie. In sulke tye kan jy nie altyd die perspektief sien van wat die beloftes van God inhou nie. Gelukkig staan die Woord vas. Dit is nie afhanklik van hoe ek voel nie. God se invloed en uitwerking in my lewe verander nie.

As jou lewe dalk nie vandag sin maak nie, onthou net een ding; Jesus het jou duur gekoop met Sy bloed.

Hy weet van jou.

Johann

Scroll to Top