Ek kom Sondag gou vir ‘n stort.

Storte201009

Ons was buite op de Brug (weermagopleidingsterrein net buite Bloemfontein) besig met basiese opleiding gedurende 1982. Iemand kry ‘n goeie idee dat ons moet gaan stort. Die storte was seker sowat 5 km van ons kampterrein. Almal word in hulle “overalls” aangetree en ons word op ‘n drafstappie in ‘n stofbank gemarsjeer.

Weet jy wat is rêrig sleg van so in ‘n groepie draf? Jy kan nie moeg word nie. As jou korporaal nog boonop fiks is, was jy in groot moeilikheid, want die man kon vir myle aaneen draf. Jou oorlewing op alle terreine was maar dat die groep saamgestaan het en die pas aangegee het. (Meestal met kommentare van die korporaals, dat die maatjies nie wil saamwerk nie)

Wel so draf ons in stof. Sweet stroom teen jou voorkop af, jou “overall” is deurnat en dan het ons nog die stof-faktor wat jou omskakel in ‘n drawwende modderkoekie.

Aangekom by die storte is almal uit hulle klere en onder die koel lafenis van die water.  Klaargestort is almal weer in dieselfde vuil klere geprop en word ons weer teruggejaag om binne 1 km weer die  gestalte van modderkoekies aan te neem. Tenminste was die “taaigeit” darem weg, maar jy was steeds maar vuil.

Ons Christene aan die ander kant lewe baie keer maar net so. Jesus Christus kom was jou skoon, jy kry die geleentheid om ‘n nuwe mens te word, iemand wat letterlik op alle terreine “oorgedoen” word.  Die ewige lewe, ‘n nuwe perspektief, nuwe moed, nuwe genade, nuwe persoonlikheid, bevryding… en wat doen ons, ons trek die vuil en verdoemende lewe se klere weer aan, en eintlik sê ons; “Nee dankie Here” die prys wat U op die kruis betaal het, is nie so belangrik nie. Volgende Sondag sal ek weer gou kom vir ‘n stort voordat ek die stofpad terugvat.”

1 Joh 1:6-7 “ 6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde”

Kom ek en jy maak vandag daardie verskil in mense se lewens—vir Sy koningkryk op aarde

Johann

Scroll to Top