flattyre

Hier oor die paasnaweek van 2006 het ons so ‘n bietjie gaan uitspan by die see. Dit was agterna so lekker om terug te wees hier in die subtropiese streek wat ons die Vrystaat noem. Jy mag dalk wonder oor die subtropiese verwysing, maar dit is hoe dit by ons gelyk het van al die lekker geseënde reëns. Ek moet sê so met ons terugry die spesifieke Dinsdag hier deur die Suid-Vrystaat het die gras al so hoog gegroei dat die skape op hulle agterpote moes staan om gras te kan vreet… Daar was ‘n paar skape wat op miershope geklouter het, eers het ek gedink dat hulle so die gras wou eet, maar toe sou ek sien dat hulle die “Boy Scouts” is wat die pad moes vind. Goed, my verbeelding hardloop vooruit, kom ek stop hier.

‘n Goeie klompie jare gelede het ons een keer ‘n papwiel opgetel of opgedoen (Ek wonder nou skielik hoe werk ‘n papwiel?) Die kleintjies (soos ek hulle vandag steeds noem) was toe nog regtig klein. Zelka was seker so 4 of 5 jaar oud. Ongelukkig vir my het ek die verkeerde wielgereedskap gehad en was ons gestrand in die nag op die N2 so 40 km anderkant Colesberg aan die Vrystaat se kant. Erge paniek het redelik in my posgevat want niemand het moeite gedoen om te stop en te help nie. Ek kan goed onthou toe Zelka op ‘n stadium vanuit die motor en sonder om ‘n woord te sê so oor my skouers gestreel het. Op daardie oomblik het die Heilige Gees deur my gespoel en ‘n bonatuurlike vrede het oor my gekom. Nie lank daarna nie het ‘n vragmotor langs ons gestop en ons was spoedig weer op ons pad.

Die verhouding wat ons met God het, moet nie net geskoei wees op roetine of godsdienstigheid nie. Daar moet ‘n lewendige interaksie wees tussen jou en Hom. Verwag groot dinge van Hom. Verwag en aanvaar dat God jou net die beste wil gee, dat Hy aktief betrokke wil wees in jou lewe; deel wil wees van jou lewe.

Aanvaar dat wonderwerke, hoe groot of onverklaarbaar ookal, ‘n werklikheid is of kan wees in jou verhouding met Hom.

Johann

Scroll to Top