Mans kan op verskeie maniere middeljare krisisse beleef. Ek beleef dit in my verbeelding. Waar ander mans vir hulle plat motors of motorfietse aanskaf, het ek vir my ‘n petrol aangedrewe “blare blaser” aangeskaf. Die eerste keer toe ek begin wonder of ek die ding dalk nie te vêr vat nie, was toe ek vir ou Gert wat besig was om die blare te blaas so deur die geraas my vinger soos ‘n ruitveêr geswaai het en toe met my wysvinger teen my bors getik het.
“Ek mag hom nie gebruik nie?” sê-vra hy. Ek knik instemmend my kop en hy kry die boodskap.
Die volgende keer (en sedertdien) was waar ek myself vang dat ek my verbeel ek ry op ‘n motorfiets. Dan “rev” ek daai 25cc masjientjie tog te lekker. Tot Zelda vir my op my skouer tik en my aarde toe pluk met, “Hierdie ge-brrm-brrm gaan my en die meisies teen die mure uitdryf…”
Nou ry ek maar aan die agterkant van die huis my “motorfiets” dat die blare so waai…
Dis nou nie eintlik my storie nie. Tog baie naby want die agterkant van die huis bevat ‘n vuilgoedhoop wat ek gedurig moet beskerm teen dreigemente van vernietiging. Dit was tot onlangs 3 teen 1. Ek vermoed ons is nou twee teen twee. Dis nou as Jonè my storie gekoop het. So moes sy mos 3 potte vol “potting soil” kry en ek verwys haar na my hoop.
“Ek was daar, dis dan net gemors!” hoor ek.
Met ‘n tuinvurk maak ek ‘n lekker diep gat in my “gemorshoop” en wys haar die warm kompos.
“Wow! waar kom al die grond vandaan?” verander die deuntjie vinnig terwyl ons die eerste pot vol kompos gooi.
I rest my case and the rest is history.
Jy weet ek kon nie anders as om te dink dat ons geestelike lewens maar net soos ‘n kompos hoop is nie. Wanneer ons Jesus toelaat om ons lewens te verander word ons geestelik voedsaam. Die Vrug van die Gees floreer en skiet diep wortels. Hoe dieper Jesus se wortels in ons lewens groei hoe sterker en ryper word ons geestelik.
Het jy enige blare wat dalk bymekaar gehark kan word vir ‘n komposhoop?
Johann