“Het Pa gelees wat jy in vandag se stukkie gesit het? Zelka sit met haar rug na my in ons kantoor. Haar opmerking se trant kan ek nie lekker vasvat nie. My eerste reaksie bevat ‘n tikseltjie paniek; paniek dat ek iets ingesluit het in die dagstukkie wat ek oorgesien het in die voorbereiding. Terwyl ek probeer om my paniek te kamoefleer en reageer met woorde wat nie lekker kan raakvat wat ek vrees om te vra nie, kug ek ’n paar maal so in die verbygaan en vra doodluiters waarna sy verwys.
“Hou aan met aanhou”. Die artikel handel oor Thomas Starzl, wat lewer orgaanoorplantings pioneer het, en verskeie kere misluk het voor hy uiteindelik sukses behaal het.
Minute vroeër het ek redelik moedeloos geraak omrede die maand skaars begin het en die maand se begroting was so te sê reeds “volgeboek” met ‘n paar verrassings daarby. Daardie tipe verrassings wat mens nie wil hê nie.
Zelka se vraag veroorsaak dat ek soos ‘n valskerm springer op 20 m bo die grond uit die vliegtuig spring en daar nie genoeg tyd is om die valskerm oop te maak nie. Dwah!!…
Ek het toegelaat dat my omstandighede vir my voorskryf wat my situasie is; Ek het nie aan my omstandighede vertel hoe groot my God is nie…
Dit was ‘n lekker gevoel om die sak oor te gee sodat ek kan fokus op belangriker dinge, soos, om te lewe in Sy goedheid.
Johann