Xtreme

xtreme

“Xtreme makeover”, “Xtreme sport” As ek nog een nuwe Xtreme something” op TV moet sien sal ek waarskynlik een donker nag hier in die vallei af skreeu. (Natuurlik sal ek dit nie in die dag doen nie – mens het mos jou trots…) Ek kan soms hierdie realiteits-TV programme nie aldag verstaan nie.

Eers het hulle begin met Xtreme makeover, toe is dit klere, tuine, motors en so vêr ek weet trek ons nou al by huise. Daar is seker nie regtig so iets vreesliks verkeerd daarmee nie, dis net, ag, nou ja, ek raak seker maar oud.

Daar is wel een Xtreme waarvan ek hou. Om Xtremely opgewonde oor Jesus te wees, Xtremely Sy genade te ervaar, Xtremely elke dag aan te pak met Jesus altyd in sig.

Onlangs sukkel ek een aand om te slaap. Ek sit en wag dat die slaap my oorval voor die TV. Sodra ek ‘n paar vissies voor die TV gevang het is ek reg om my bed te bestyg. Skaars my lê gekry, toe weet ek sommer die slaap is al weer weg. Ek herhaal my roetine en my tweede probeerslag werk beter.

Wat gebeur het weet ek nie mooi nie, maar ek moes waarskynlik seker begin snork het want die volgende oomblik toe Zelda my wou aanmoedig om nie te snork nie, “poke” sy my in die ribbes en raai wat?, ek skrik so groot dat ek is weer wawyd wakker is. My roetine word maar weer herhaal.

Met hierdie sessie kry ek bemoediging voor die TV uit ‘n Christelike Xtreme sportuitsending. Ek word bemoedig met die volgende gedeelte uit Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”

Ek staan op en gaan slaap met die wete dat Jesus in beheer is en Hy sal my suksesvol maak. Hy is die God van die bonatuurlike, ek hoef Hom net in beheer van my lewe te plaas en Hy sal sorg vir die res.

Neem hierdie werklikheid ook saam met jou elke dag.

Johann

Scroll to Top