In die Franse wetenskaplike, Louis Pasteur, se leeftyd is duisende mense jaarliks aan hondsdolheid dood. Pasteur het onverpoos gewerk aan ‘n entstof. Net toe hy op homself wou begin eksperimenteer, is ‘n negejarige seun, Joseph Meister, deur ‘n dol hond gebyt. Joseph se ma het Pasteur gesmeek om sy serum op haar kind te toets. Pasteur het die kind vir nege dae ingespuit en so sy lewe gered. Dié woorde is op Pasteur se versoek op sy grafsteen gegraveer: Joseph Meister het geleef! Die Bybel sê, ‘Iemand wat reg optree, is soos ‘n vrugbare boom. ‘n Mens wat wys is, red ander se lewens.’ (Spreuke 11:30 NLV). Dis ondenkbaar dat iemand ‘n kankerkuur sou ontdek en weier om dit beskikbaar te stel.
Net so, is die evangelie goeie nuus slegs as ons bereid is om dit met ander te deel. Mense is hoofsaaklik oor materiële welsyn begaan; hulle ‘glo’ in God vir huise, motors en vakansies, in plaas van vir die redding van hulle geliefdes. ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur.’ (Hebreërs 11:1 NLV). Hierdie ‘dinge’ is nié die materiële, tydelike dinge nie, maar die ewige dinge van die ‘…beter vaderland .’ (Hebreërs 11:16 NLV). Ons is veronderstel om éérs die koninkryk van God te soek en al die ander ‘dinge’ sal toegevoeg word. Ons hoef ook nie eens te vra nie, ons kry dit wanneer ons God eerste stel. ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge …byvoeg.’ (Matteus 6:33) Dus wees wys – word ‘n wenner van siele!
Bron : Radiokansel