Nie so slim nie, maar wel kosbaar

Skape is nie slim diere nie. Hulle kan nie deur vinnig vloeiende water beweeg of hulleself beskerm nie. Daarom het hulle ‘n herder nodig, ‘n goeie een. Wel, met ons is dit nie anders nie. Ons is nie so slim soos wat ons dink nie. Ook nie so sterk of oulik nie. Alles en behalwe. Dan sou die Here ons mos leeus genoem het, of so iets. Maar nou noem Hy ons sy skape omdat Hy ons heeltyd moet oppas. Ons het spesiale hemelse beskerming nodig, anders verdwaal ons. Anders sterf ons van die honger. Anders vang kwaai wolwe ons.

 ‘n Herder se werk is om die beste weiding vir sy skape te vind. Die Here doen dit ook. Hoor mooi, dis sy taak om te besluit waar die groenste weivelde in jou lewe is, nie joune nie. Jyself kan nie die verskil tussen groen en bruin gras uitken al lê jy tot by jou nek in groen gras nie. Hou dus op om self te besluit wat die beste is vir jouself. Jy het ‘n Herder nodig. Hy is op hierdie einste oomblik op pad na groen weivelde toe met jou- as jy nie lankal reeds daar is nie!

Vrede

Stephan Joubert | Ekerk.co.za

Scroll to Top