Bid oor alles

dino2505

dino2505Die seuntjie van ‘n sendelinggesin in die oerwoude van Afrika het ‘n prentjie van ‘n pienk dinosourus in ‘n tydskrif gesien en wou dolgraag so iets hê. Sy ma het besef dat dit eintlik onmoontlik was (die tydskrif was in elk geval al drie jaar oud), maar die seun het vas geglo dat God dit aan hom sou gee. Tien maande later, op Ou Kersdag, het die gesin ‘n pakkie van hulle tuisland af ontvang. Heel onder was daar iets verstommend! Die persoon wat die pakkie afgestuur het, het geen benul gehad dat God haar sou gebruik om ‘n seuntjie se gebed te verhoor nie. Voor sy die pakkie verseël het, het sy die een ding wat die seuntjie se ouers nie kon verskaf nie, in die pakkie geplaas – iets so onbenullig…’n plastiese pienk brontosourus van ‘n kitskos restaurant!

Ons voel soms soos gekke om God met onbenullige dinge te pla, maar ons moenie. Die Bybel sê: ‘bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.’ (Filippense 4:6 NLV). God stel belang in elke klein deeltjie van jou lewe; as iets vir jóú belangrik is, is dit vir Hom ook belangrik. In die Bybelse tyd is twee mossies vir ‘n sent verkoop, tog het Jesus gesê, ‘Julle weet dat twee mossies vir ‘n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie’ (Matteus 10:29 NLV). As jy eers geleer het om in die klein dingetjies op God te vertrou, sal jy dit ook in die belangriker dinge kan doen.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top