Leer om taktvol te wees

takt1009

takt1009Takt is die vermoë om ‘n punt te kan maak sonder om in die proses vyande te maak. Om mense om te haal, moet jy a) hulle verstaan, en b) gemaklik wees met diversiteit. Paulus het geskryf: “Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring.” (1 Kor. 9:22 NLV). Paulus het nie ‘n sentimeter toegegee wanneer dit by die waarheid gekom het nie, maar sy strategie was altyd liefdevol.

Wanneer mense weet dat jy hulle respekteer, sal jy hulle makliker kan help verander. Toe Paulus mense aangespreek het wat bereid was om iemand te vervreem weens ‘n fyn teologiese punt, het hy geskryf: “Binne Sy familie is almal gelyk. Almal… is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.” (Gal 3:28 DB). Dink net, wanneer al die eeue se gelowiges rondom God se troon bymekaarkom om Hom te prys sal hulle nie net uit verskillende kontinente en kulture kom nie, maar ook uit verskillende eras. Wat ‘n konsert! Maar jy sal dit nie geniet as jy so eng is dat jy net een liedjie ken nie, want dit mag dalk nie wees wat hulle sal sing nie.

Sommige van die mense met wie God die meeste vermag het, het gespog met kulturele diversiteit, soos Moses, ‘n Israeliet wat in ‘n Egiptiese huishouding grootgeword het. Of Petrus, wat bevooroordeeld was en gedink het God seën net die Jode, totdat God hom reggehelp het. Skynbaar het Petrus sy les geleer, want later het hy geskryf: “Julle is van julle sondes gereinig… Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet…’ (1 Pet 1:22 NLV).

Bron : Radiokansel

Scroll to Top