Om mense te behaag

led0909

led0909Dit is nie maklik om deur die grense wat ander aan ons stel, te breek en deur God se Gees gelei te word nie. Soos Jesus, sal jy gekritiseer word. Toe die mense gesê het: “Is Hy dan nie maar net die timmerman se seun nie?” (Matt 13:55), het hulle in werklikheid bedoel “Hy behoort sy plek te ken.” Dieselfde sal van jou gesê word.

Twee soorte mense misluk altyd – diegene wat na niemand luister nie, en dié wat na almal luister. Paulus skryf: “Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.” (Rom 14:12 NLV) Dit is nie net verkeerd om ander te oordeel nie, maar net so verkeerd om toe te laat dat ander se opinies veroorsaak dat jy jou roeping mis.

Te gereeld doen ons dinge om mense tevrede te stel, eerder as met ‘n doel voor oë. Wat mense dink, pla ons só dat ons heeltyd oor ons skouer loer om te sien of hulle glimlag of frons. God sê: “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.” (Eks 20:3 NLV). Jy doen dit wel as jy jou lewe daaraan wy om ander mense tevrede te stel, in plaas daarvan om God te gehoorsaam. “Maar wie is ek om myself te laat geld?” Waarom nie? Jy is ‘n kind van God en daarom is jou eerste verantwoordelikheid om Hom te behaag. Die tweede is om voluit te leef. Om doelgerig te lewe is die enigste manier – anders maak jy net ‘n bestaan.

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top