Wees jouself!

Ludwig1312

Hy wou dirigeer, maar sy styl was verkeerd. Gedurende sagte passasies het hy te laag gebuk. Met luide gedeeltes het hy in die lug gespring en selfs op die orkes geskreeu. Sy geheue was beroerd. Eenmaal het hy vergeet dat hy die orkes opdrag gegee het om nié ‘n gedeelte van die musiek te herhaal nie. Gedurende die uitvoering was daar natuurlik chaos – hy wou die gedeelte herhaal en hulle het aanbeweeg. Hy het die orkes gestop en geskree, ‘Stop! Verkeerd! Dit is nie reg nie! Weer! Weer!’ Hy het ook probeer om vanaf die klavierbankie te dirigeer, maar opgespring en die kerse van die klavier afgestamp.

Tydens ‘n ander geleentheid het hy ‘n koorknaap omgestamp. Gedurende ‘n lang, delikate passasie het hy tred verloor en verkeerde aanduidings aan die orkes gegee. Soos sy gehoor slegter geword het, het die musici sy leiding geïgnoreer en die leiding van die eerste viool probeer volg. Uiteindelik is hy gevra om nie meer te dirigeer nie. Wie was hy? Ludwig van Beethoven.

Die man wat baie mense as die grootste komponis ooit beskou, moes leer dat mens nie meester van alle vakke kon wees nie. Die Bybel sê, ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.’ Bepaal en ontwikkel jou gawes. Dit kan vreesaanjaend wees, veral wanneer mens goedkeuring verwag van diegene wat dit nie gee nie. Moenie jou lewe ‘n voortdurende stryd maak om iets te wees wat jy nooit sal wees nie. God het jou geskep soos jy is. Wanneer jy iemand anders probeer wees, is die beste wat jy ooit kan wees die nommer twee. Wees jouself, wie kan dit beter wees?

Bron : Radiokansel

Scroll to Top