Eerlike vertwyfeling (2)

thomas2707

thomas2707Hoe kom jy jou vertwyfeling te bowe? Soos Tomas – deur dit eerlik te erken en dit dan vir Jesus te gee. Voel jy asof jy toestemming nodig het om te huil wanneer jy ‘n geliefde verloor? Voel jy asof jy nie die vrymoedigheid het om te erken as jy regtig onseker is oor iets nie? Jy vra jouself die vraag: mag ek twyfel? Ja, jy mag! Dit is krities nodig! As jy nie twyfel nie, sal jy nie groei nie. Jy sal opeindig met iemand anders se antwoorde wat nie noodwendig jou eie vrae bevredig nie… dis nou as jy in die eerste plek eerlik genoeg is om dinge te bevraagteken. Is jy? Of het ‘n ander gelowige wat dit dalk goed bedoel het, jou onwetend laat glo dat jou vrae by God aanstoot sal gee?

Hoor weer die teer woorde van die Een wat jou twyfel en vrese selfs beter ken as jy self. Hy sê: “Vrede vir jou. Kyk na My hande en voete. Kyk met die oë van geloof en glo. Jy is geseënd wanneer jy glo ten spyte van jou twyfel.” Hoekom bid jy nie soos volg nie: “Here, soos Tomas, twyfel ek soms. Ek het nog nie alles in my lewe uitgepluis nie. En totdat ek myself nie tot U wend nie, sal dit nie gebeur nie. Dankie dat U my in my vertwyfeling aanvaar en dat U nie my vrae ignoreer nie. Tomas kon uiteindelik sê: ‘My Here en my God’. Dankie dat U geduldig is met my terwyl ek ook by daardie punt probeer kom.”

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top