Partykeer is dit wys om te sê “Ek het nie nou die regte antwoord nie, maar ek sal daaroor dink en bid en na jou toe terugkom.” Jou begeerte om iemand te spaar of te beïndruk, sal jou inhaal. Die Bybel sê, “‘n Verstandige mens bly stil oor sy kennis. Dwase basuin hulle onkunde uit” (Spr 12:23 NLV).
Wanneer mense angstig raak sal hulle jou druk om antwoorde te gee nog voor jy al die feite het of tyd spandeer het om daaroor te dink en te bid. As jy Hom vra, sal God vir jou sê wat om te sê en wanneer om dit te sê. Sy belofte is: “Ek het my woorde in jou mond gesit. Ek het jou beskerm met die skadu van my hand” (Jes 51:16 NLV). Ego sê: “Moenie net daar staan nie, sê iets.” Wysheid sê, “Moenie net iets sê nie, staan daar!” Vra God vir insig. Insig komende van Hom af, kan enige kwessie gou oplos. Iemand anders se behoefte om te weet hoef nie jou behoefte om te praat te bepaal nie.
Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, het Hy gesê, “Besef jy nie dat ek meer as twaalf legioene engele van my Vader sou kon vra om ons te beskerm en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?” (Matt 26:53 NLV). Tog sê die Bybel, “Hy het sy mond nie oopgemaak nie” (Jes 53:7 NLV). Jesus is voor Pilatus gebring en Hy het net daar gestaan en niks gesê nie. Dit is omdat Hy nie besig was om verhoor te word nie, Pilatus was. Jesus het Sy noodlot geken, en die belangrikste van alles, Hy het Sy Vader geken. En wanneer jy jou Vader ken, kan jy enigiets met vertroue doen – en vry voel om stil te bly. Hoe wonderlik!
© radiokansel.co.za