Vrede – dit is jou erfenis!

ImagePaulus het gesê: “En laat die vrede van God in julle harte heers,” (Kol. 3:15, OAV). Vrede is jou geboortereg. Jesus het gesê: “My vrede laat Ek vir julle na.” ‘n Nalatenskap word gewoonlik deur iemand in sy testament uiteengesit. Wanneer die persoon sterf, word sy waardevolste besittings volgens sy testament aan sy geliefdes gegee. Hy sal nie waardelose dinge aan hulle bemaak nie. Tog, al het Jesus sy vrede aan ons nagelaat, beteken dit nie dat dit outomaties in ons lewens inwerk nie. Dit is ‘n reserwe waaruit ons elke dag moet tap. Die vyand gaan alles in sy vermoë doen om dit te vernietig. Hy weet wanneer jy ontsteld is, sê en doen jy goed waaroor jy later spyt gaan wees. As jy dan boonop jou vrede verloor, is dit moeiliker om God se stem te hoor.
Jou eerste reaksie op konflik en probleme is dikwels angstigheid. Op daardie oomblikke gaan dit vir jou voel asof vreedsaamheid die verkeerde reaksie sal wees. Ons dink: “As ek omgee, moet ek tog bekommerd wees. As hierdie situasie belangrik is, moet ek ontsteld bly.” Die hoeveelheid tyd wat ons aan bekommernis spandeer gaan geen invloed hê op die uitkoms van ‘n saak nie. Die beste manier om jou probleme op te los, is deur vrede. Oplossings kom makliker en natuurlike na vore wanneer ons vreedsaam is, terwyl vrees en angs oplossings soos mis voor die son laat verdwyn. Angs gee mag aan die probleem: dit help nie om jou ontsteltenis te koester nie.
God se vrede is beskikbaar, jy moet net die keuse maak om dit te aanvaar. Weier dat negatiewe emosies jou lewe beheer. Die Bybel sê: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is . vrede,” (Gal. 5:22, NAV). Jesus het gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie,” (Joh. 14:1, OAV). Dit beteken dat ons die opsie het om te kies tussen vrede en innerlike konflik. Kies vrede – dit is jou erfenis!
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top