Netwerk

RKVolgende keer as jy deur die woud stap, dink bietjie aan alles wat onder jou
gebeur. Wanneer die boomwortels mekaar ontmoet, vorm hulle ‘n ondergrondse
ondersteuningsnetwerk. Die een wortel kry water, die volgende een nutriënte, ‘n
ander een sonlig, ens. Hulle is besig om te netwerk, sodat almal daaruit kan voordeel trek. Dit
is ook wat Paulus in gedagte gehad het: “Uit Hom groei die hele liggaam.
Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van
hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”
Sommige van ons wat meer onafhanklik is sukkel om te netwerk. Ons vlieg alleen,
totdat ons verongeluk en uitbrand! Uiteindelik wys ons pyn, en nie ons brein
nie, vir ons dat ons die volgende benodig:
 
(1) Genade. “Soos die Here
julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe,” (Kol. 3:13). Wat
motiveer ons om genade teenoor ander te betoon? God se genade teenoor ons. Jy
sal nooit gevra word om iemand meer te vergewe as wat God jou alreeds vergewe
het nie.
 
(2) Begrip. “Daarom moet
julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees,”
(Kol. 3:12). Simpatie vervul twee basiese behoeftes wat ons almal het: die
behoefte om verstaan te word en die behoefte dat ons emosies geldig verklaar word.
Die probleem is dat ons so haastig is om mense reg te help dat ons nie tyd maak
om met hulle te simpatiseer nie. Ons is gewoonlik te behep met ons eie pyn.
Selfbejammering laat jou medelye vir ander opdroog.
 
(3) Bemoediging. “Ek bedoel
dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur
myne,” (Rom. 1:12). Ons almal word in ons geloof versterk wanneer ander
die pad saam met ons stap en ons bemoedig.
 
Gaan vandag nog uit en oefen hoe om
te netwerk.
 
© Kopiereg Radiokansel 2007 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top