
Sement is nooit goeie geleiers van Goddelike genade nie, veral nie as dit rondom jou hart begin aanpak nie. Dit maak jou stokdoof, blind en koud. Daarom dink harde hart eienaars hulle is altyd reg. Hulle weet die beste. Ander mense is treinspore oor wie hulle kan ry, of strate oor wie hulle kan loop. Moenie soos hulle wees nie. Ruil jou hart in as dit begin hard word. Laat Christus se sagtheid jou opnuut oorrompel. Laat die Gees van die Here van voor af ‘n hart van vleis en bloed in jou binneste installeer wat warm klop vir Hom en vir ander. Vra die Here om jou weer sag en bruikbaar, soos goeie klei, te maak. Anders gaan jy as ‘n bitter, siniese mens opeindig.




