Gaan op jou knieë

praying1211

praying1211Die Kersverhaal lui: ‘Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. Skielik het ‘n engel van die Here tussen hulle verskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem gebore! En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ‘n Kindjie vind wat in ‘n krip lê en in doeke toegedraai is!’ (Lukas 2:8-12).

Het jy al ooit gewonder waarom die engel die nuus heel eerste aan nederige skaapwagters bekend gemaak het? Dink daaraan: as hy met kerkleiers gepraat het, sou hulle eers hulle geskrifte en kerkraad moes raadpleeg.

As hy aan beroemdes verskyn het, sou hulle eers moes seker maak wie na hulle kyk. As hy aan uitvoerende amptenare verskyn het, sou hulle eers na hulle dagboeke en syferkolomme moes kyk.

Die engel het dus die grootste nuusbrokkie ooit aan mense gegee wat nie hul eie belang gesoek het nie, geen reputasie gehad het om te beskerm nie en geen sosiale aspirasies gehad het nie. Hulle was nederige mense met ‘n oop gemoed; mense met ‘n eenvoudige, kinderlike geloof. Verstaan jy? Buite die dorp Bethlehem is daar ‘n kerk wat Jesus se geboorteplek aandui.

Agter die altaar is daar ‘n grot met ‘n simboliese ster in die vloer. Jy kan by die grot ingaan, maar die deur is so laag dat jy moet kniel. Jy sal God in die alledaagse vind, maar jy moet op jou knieë wees!

Bron : Radiokansel

Scroll to Top