Veilig in God se arms

ImageTydens die Tweede Wêreldoorlog moes Jill Briscoe en haar gesin in die Engele Meerdistrik gaan woon. Sy onthou een spesifieke, angswekkende nag: “‘n Storm het bokant ons uitgebreek. Reën het soos reusagtige traandruppels teen die vensters gehamer en die donderweer het gedreun. Ek het nie van die storms gehou nie en ek was oud genoeg om te verstaan dat ‘n groter storm gewoed het, ‘n oorlog waaraan die hele wêreld deelgeneem het. Maar dit was so ver weg. Die vuur was warm en my pa het in sy groot stoel ontspan. Hy het besef dat ek ‘n bietjie troos nodig gehad het, sy koerant neergesit en geglimlag: ‘Kom hier, my kind,’ het hy in sy stil, maar gesagvolle stem gesê. En skielik het ek veilig in sy arms gelê met my kop teen sy skouer en sy hartklop in my oor.

“Wanneer ek nou terugkyk, besef ek dat my Hemelse Vader my beskut teen die lewenstorms. Toe hartseer my wou oorweldig tydens my ma se begrafnis, kon ek troos vind in my Vader se teenwoordigheid. Toe die winde van twyfel my moed wou wegvee toe ek straat-evangelisasie gedoen het en met bendes moes werk, het ek opgekyk en my Vader se gesig raakgesien. Toe die vloede van vrees al hoe hoër geword het terwyl ek by die hospitaal op toetsuitslae moes wag, het ek gehoor hoe my Hemelse Vader sê: ‘Kom hier, my kind.’ Ek het in sy arms geklouter, teen sy skouer geleun en gefluister: ‘Mmm, hierdie is ‘n wonderlike plek om te wees.'”

Die Bybel sê: “Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou,” (Deut. 33:27, NAV). As die lewenstorms besig is om jou te oorweldig, gaan lê in jou Hemelse Vader se arms, voel sy hartklop en rus daar met die wete dat Hy groter is as die storm wat buite woed.

© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top