
Horace Mann was een van Amerika se beste leermeesters. Hy was ‘n prokureur wat in 1837 die politiek betree en president van die Senaat van die staat Massachusetts geword het. Hy wou ‘n openbare skoolstelsel ontwikkel en sy ywer het daartoe gelei dat Massachusetts Amerika se eerste onderwysraad as ”n eksperiment’ daargestel het. Toe hy die pos van leier van die onderwysraad aangebied word, het sy vriende hom afgeraai om dit te aanvaar, want hulle het geglo hy kon president van die land word. Mann het egter die pos aanvaar en gesê, ‘As die pos dan nie eerbaar genoeg is nie, sal ek dit méér eerbaar moet maak!’ Die pos het min prestige gehad, en die jaarlikse salaris van $1 500 was ‘n fraksie van wat hy as prokureur kon verdien. Hy het die volgende oor die karige salaris gesê, ‘Slegs dit is seker: as ek leef en goeie gesondheid geniet, sal ek meer as $1 500 se waarde kan toevoeg.’ Hy het. Hy het sy posisie gebruik om aan Massachusetts ‘n openbare skoolstelsel te gee wat deur ander state nagevolg is en wat die lewens van miljoene kinders sou verryk. Streef na uitnemendheid in alles wat jy doen!
Bron : Radiokansel



