Habakuk het ‘n visioen gehad, ‘Die boodskap wat die profeet Habakuk in ‘n visioen ontvang het’ (Habakuk 1:1 NLV). Hy het dit oral en altyd ‘gesien’. Dit het hom op sy knieë gedwing, ‘Here, hoe lank moet ek nog roep om hulp? U luister nie na my nie…Waarom laat U my die onreg en die ellende om my sien?…Die wet het sy krag verloor en is onbruikbaar. Daar is baie meer goddelose mense as dié wat reg doen.
Daarom is die regsuitsprake verdraaid.’ (Habakuk 1:2-4 NLV). God sal jou net belas met die probleem wat jy geroepe is om op te los, voordat Hy jou met ‘n plan van aksie sal seën. Lewis Braille wou graag lees en skryf, maar het, toe hy drie jaar oud was, sy sig verloor. Hy het egter geweier om dié duister wêreld te aanvaar, ‘Ek sal ‘n stelsel ontwerp sodat blinde mense ook kan lees en skryf.’
Die Braille-stelsel het al miljoene siggestremdes geseën. Die Psalmdigter sê: ‘…Ywer vir u huis brand in my…’ (Psalm 69:10 NLV). Wat is jou allesoorheersende ywer? Wat is vir jou erns? Waarvoor het God jou geroep en met watter talent het Hy jou geseën? Paulus se brandende begeerte was om die hele wêreld van Christus te vertel. Hy het daarin geslaag. Toe hy deur sy vyande opgesluit is, het hy dertien sendbriewe uit sy sel geskryf wat meer lewens na sy afsterwe sou verander, as wat hy ooit kon hoop om tydens sy lewe te doen. Waaraan is jy bereid om jou lewe te wy en te gee? As jou visioen werklik van God kom, sal jy dit ‘voel’.
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)