Om werklik effektief deur Jesus gebruik te word, moet daar eers iets in jou gebeur. Jou eie-ek, daardie trotse, onafhanklike self hierbinne elkeen van ons, wat dink dat hy/sy niks en niemand nodig het nie, moet eers die knie buig, oorgee, ja, doodgaan.
Voor die Here jou en my kan gebruik om ander te bedien en ander se lewens positief te beinvloed, moet ons eers self getransformeer word van hierdie trotse, onafhanklike mense na mense wat in God se spieël van waarheid ontdek het dat hulle inderwaarheid gebroke, gebarste, brose erdekruike is wat net aanmekaargehou word deur die gom van ’n liefdesverhouding met die Vader in die hemel.
Daar in Gal. 2:19 en 20 beskryf Paulus dit sommer as ons moet doodgaan.
Luister mooi na hierdie belydenis wat hy hier uitspreek: “Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
Sien, as ek dood is, is my eie-ek uit die pad en kan Jesus voor stap en die besluite neem en sê wat gedoen moet word.
Daarom word ’n Christen ook “volgeling van Jesus” genoem, want ons stap agter Hom aan, agter Sy stem aan.
Dit is wat Jesus daar in Joh. 15 bedoel het toe Hy die volgende gesê het: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”
En as ons “in Hom bly” en “Hy in ons”, staan daar in Joh. 15:10, sal ons Sy opdragte gehoorsaam. En die hart van Sy opdragte, sê Jesus self daar in vers 12, is: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
Hoe lyk dit wanneer ons ander mense liefhet soos Jesus hulle liefhet?
Daar in Joh. 13 het Jesus dit vir ons gewys toe Hy ’n handdoek om Sy lyf gedraai het en by elkeen van Sy dissipels se stowwerige voete gaan sit het om dit te was en af te droog.
Ware Jesus-liefde is dus waar die Jesus wat in ons woon deur Sy Gees, in ons by die mense om ons gaan sit en hulle onmiddellike nood prakties bedien met wat tot ons beskikking is.
Daar in Mat 25 leer Jesus ons dat dit beteken om vir mense wat nie kos of water het nie, kos of water te gee; of om vreemdelinge gasvry te ontvang en te huisves; of om mense sonder klere, klere te gee; of om mense wat siek is, te verpleeg; of Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; om mense wat in die gevangenis is, te gaan besoek.
Daar in 1 Johannes en in Jakobus leer Hy ons dat Jesus wat in ons woon deur Sy Gees, vrygewig aan gelowige broers en susters wat in nood is en nie genoeg het nie, gee van wat jy het om te gee.
Ja, sê die Heilige Gees vir ons daar in 2 Kor. 8 en 9, dit sal ons laat saai op goeie grond sodat die Koninkryk van God kan kom.
En so tussen alles deur, sonder dat ons dit eers werklik agterkom of doelbewus so bedoel, gebruik Jesus ons as Sy tuinslange waardeur Sy genade en krag in verskillende vorms stroom en word mense rondom ons se lewens onomkeerbaar verander, aangeraak en selfs getransformeer.
Alles begin by daardie intieme, daaglikse, liefdevolle, persoonlike verhouding met ’n lewende God wat ons in Christus Jesus leer ken het as ons Vader, ons Koning en Here. En wat deur Sy Gees in ons woon en graag ons hele lewe wil beheer en gebruik om so ander bewus te maak dat Hy lewe en ook hulle liefhet.
Dan kan Hy deur ons ander liefhê en vir hulle gee wat hulle nodig het.
En alleen so kan ons ander se lewens effektief beïnvloed.