Die feit dat jy werklik glo dat die ware Bybelse Kerk ’n Nuwe Testamentiese nuwe verbond-geloofgemeenskap is wat dus bestaan uit mense wat êrens in hulle lewe ’n persoonlike ontmoeting gehad het met ’n lewende God die oomblik toe hulle Jesus Christus as persoonlike Verlosser en Here in geloof aangeneem het, verander noodwendig hoe jy oor die ware Kerk dink.
Waar mense Jesus Christus as Verlosser en Here in geloof aangeneem het, glo ons, het God hulle bedien met die volle dosis genade wat Christus Jesus deur Sy dood en opstanding vir ons bewerk het.
Dit beteken dus dat daardie mense bedien is met die lewe van Jesus Christus deur die werking van Sy Gees. Hulle is as’t ware vir die tweede keer gebore.
Van voor hulle eerste geboorte af het hulle gely aan die dodelike siekte waaraan elke mens op aarde ly en was hulle besig om te sterf. En, sê die Bybel, die rede hiervoor is eenvoudig: dit was in hulle gene, wat hulle by hulle ouers en voorouers geërf het.
Deur die wedergeboorte wat die Gees in hulle bewerk het, toe hulle gekies het om met die leë hande van geloof die teenmiddel wat God vir hulle aangebied het in Christus Jesus, is nuwe lewe en totale genesing van hierdie dodelike siekte aan hulle bedien. Hulle gees het lewendig en nuut geword. En hierdie selfde Gees wat hulle nuut en lewendig gemaak het, is van daardie oomblik af besig om ook genesing en verlossing stelselmatig aan die res van daardie mens te bedien vir solank daardie mens nog op hierdie aarde in sy of haar fisiese liggaam woon.
God het daarvoor self Sy eie Gees gestuur om in daardie mens se fisiese liggaam te kom woon vir die res van sy of haar lewe. Juis om hierdie verlossings- en genesingswerk voort te sit en klaar te maak.
Daarom hoor ons hoe God se Gees deur ’n Paulus die volgende aan ons as gelowiges juis hieroor belowe daar in Fil. 1:6: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
Daar in Heb. 12:14 word dit die “heiligmakingswerk” van die Gees genoem, as daar staan: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” Die Ou Afrikaanse Vertaling het dit, nader aan die oorspronklike Grieks, so vertaal: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie …”
Sien, hierdie “heiligmaking” of deurwerking van die verlossing en genesing wat Christus Jesus reeds vir ons bewerk het, in ons sielsarea, m.a.w. in wat ons dink, emosioneel ervaar en in die keuses wat ons maak, maar ook in wat in die res van ons fisiese liggaam gebeur, is alles deel van hierdie verlossing of genesing wat Jesus vir ons bewerk het , wat moet deurwerk deur die werking van die Heilige Gees in ons.
Vriende, mense oor wie ons dit kan sê en nét hulle, is deel van die ware Bybelse Kerk van Jesus. Net hulle is ledemate van die Een Liggaam van Jesus Christus.
Het jy gehoor? Hulle is almal deel van EEN LIGGAAM van Jesus Christus. Ongeag waar hulle woon, of watter taal hulle praat, of van watter volk of nasie hulle is.
As jy die Bybel mooi gaan lees, byvoorbeeld daar in Rom. 14 en in Efesiërs, ontdek jy dat selfs al glo mense nie eers oor alles wat in die Bybel staan dieselfde nie; al verskil hulle onder mekaar oor fynere detail; solank as wat hulle die Evangelieboodskap oor Jesus Christus glo en dit dus duidelik is in hulle lewe dat God se Gees self in hulle woon en aan die werk is (as lede van God se Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap), is ons almal saam deel van die Een, ware Kerk en Liggaam van Jesus Christus.
Hoor jy wat ek besig is om vir jou te sê? Die ware Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap of Kerk van Jesus Christus is almal deel van Jesus Christus se Een Kerk.
Die feit dat ons op aarde die Kerk van Jesus Christus gaan versnipper het in meer as 40 000 verskillende denominasies en verskillende kerke met verskillende name en geloofbelydenisse, is alles sondige mense-werk! Al hierdie derduisende verskillende kerkstrukture, met hulle eie geboue en programme, is mense-werk.
Daarom moet ons nie verbaas wees as God dit blatant ignoreer nie! Hy het nie ’n saak daarmee nie. Hy eer dit nie. Hy hou nie daarmee rekening nie.
Inteendeel.
Deel van die verlossings- en genesingswerk waarmee Sy Gees tans oor die wêreld in Sy ware Kerk besig is, is juis om hulle prentjie van die Kerk te verander.
Hy is doelbewus besig om Sy ware Kerk, hierdie Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap, te oortuig deur die werking van Sy Gees dat hulle almal deel is van Sy Een ware Kerk.
Hy is doelbewus besig om deur die werking van Sy Gees Sy mense te oortuig dat as hierdie mensgemaakte strukture dit verhinder en belemmer waarmee God nou besig is, hulle moet leer om dit in hulle eie lewens te ignoreer en selfs daaruit te beweeg as dit nodig is!
Ek hoop van harte jy sit nou regop van die skrik na wat ek in hierdie vorige paragraag gesê het!
Of hoe sê my een baie goeie vriendin as ek sulke dinge kwytraak: Nou voel ek om met ’n nat lappie op my voorkop net vir ’n rukkie te gaan lê …
Seker sodat die skok net eers kan oorgaan …
