‘n Profetiese woord vir 2014 en verder

1 Kor. 15:24,25 is die Gees van God se profetiese beskrywing van die gebeure wat ook in 2014 en vêrder voor ons oë afspeel.

Daar staan: “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat (CN: en dit is die belangrike woorde wat Hy nou wil beklemtoon) Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Hy (CN: dit is Jesus Christus) moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.”

Onthou elke dag, wat ook al gebeur, hierdie groter prentjie van waarmee Ek besig is, sê die lewende God.

Dan sal julle nie moedeloos word nie, want dan weet julle reeds wat die finale uitslag van alles gaan wees en wat in My hart en My wil is.

Dan sal julle verstaan hoe Ek selfs die mees uitdagende gebeure en omstandighede kan gebruik om mense bewus te maak van My bestaan en teenwoordigheid.

My hart is dat niemand verlore sal gaan nie.

Daarom is dit My hart om elke ding wat die bose en sy magte wil gebruik om jou en jou mense te vernietig om te draai en te gebruik tot julle beswil (Rom. 8:28).

Dink maar oor die uitdagende gebeure die afgelope twee jaar. Hoe Ek dit gebruik het om mense bewus te maak van daardie leemte in hulle lewens wat net Ek kan volledig kan vul. Ander mense beleef dit weer as ’n geestelike honger en dors wat net Ek kan stil en net Ek kan les.

Oral rondom julle het die eerste druppels van die herlewing wat Ek al jare beloof het, reeds begin val. Verwag om in 2014 en in die jare wat volg, te ervaar hoe die herlewing soos ’n veldbrand vanuit die Wes-Kaap oor die hele Suid- en Suidelike Afrika, tot bo in die noorde van Afrika gaan versprei. Om dan oor te spring tot in Europa en Asië en die res van die wêreld.

Verwag om te sien hoe My Gees binne My Kerk dinge gaan regmaak wat skeefgetrek het en leuens en dwalinge oral gaan ontbloot. Waar iets anders as Ek julle identiteit en prioriteite geword het, gaan Ek self ontbloot en herstel as julle My toelaat.

Oraloor die wêreld gaan mense begeer om die werking van My Gees te sien en te beleef, sodat hulle My in hulle midde kan beleef.

Maak gereed om dan te gaan en deur My gebruik te word daar waar mense honger en dors na My vrede (Luk. 10).

As julle in hierdie proses sien hoe Ek magte, sisteme en manipulerende kragte rondom julle laat sneuwel, moenie bang word nie. Ek is en bly dieselfde. Soos Ek My volk in die midde van ’n woestyn, ten spyte van hulle ongeloof en ongehoorsaamheid, vir 40 jaar dag vir dag kon beskerm en versorg, so sal Ek elkeen van julle dag vir dag versorg.

Onthou My woord daar in Mat. 6:33 en 34: “ … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Baie van julle is moedeloos en voos na die aanslae en aanvalle die afgelope tyd. Die vyand het dit selfs reggekry om baie van julle se drome en geloof verwagtinge by julle te steel. Julle is moeg en julle tonge sleep op die grond.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Mat. 11:28-30)

Ek wil julle in hierdie tyd meer leer oor die geheim van die lewe wat Ek aan julle gegee het. “Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.” (Kol. 1:27)

2014 en verder gaan ook die tyd in julle lewens wees waarin die saad wat julle al vir baie jare gesaai het en die brood wat julle oor baie jare op die water in My Naam en in gehoorsaamheid aan My stem gegooi het, gaan oes oplewer en na julle gaan terugkeer.

Kom sit weer by My voete dat Ek in jou ’n verwagting kan skep vir wat Ek vir jou in 2014 en in die jare wat daarop gaan volg in gedagte het. Verwag dus dat 2014 ’n buitengewoon opwindende jaar gaan wees. Gaan sit en skryf die dinge neer wat jy “sien” Ek vir jou gee.

Deure wat skynbaar toegebly het tot nou toe, gaan skielik oopgaan. Nuwe verhoudings gaan ontstaan en nuwe vennootskappe gaan gesluit word. Verwag van My besigheidsgeleenthede wat al jou verwagtings gaan oortref.

Wanneer julle met verwagting begin doen wat Ek julle aansê om te doen, sal julle bewus word van My in My heerlikheid in julle midde en verslae staan oor wat moontlik is.

As die seën kom, onthou dan dat dit nie net vir nou is nie, maar ook deel is van My voorsiening sodat julle verantwoordelik gereed kan maak vir die tye wat kom.

Daarom sluit ek hierdie profetiese woord af deur die gebed daar in Ef. 3:14-21 vir jou en elkeen van jou geliefdes te bid:

“Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

Scroll to Top