Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 51

Ons is besig om te gesels oor wat dit beteken om werklik “in geloof” te lewe in hierdie uitdagende tyd wat ons tans belewe.

Ons het vir onsself uitgemaak dat dit geloof en vertroue beteken in die Een wat belowe het dat Hy ons dag vir dag, van uitdaging tot uitdaging, gaan lei met Sy stem. Dit gaan dus beteken dat ons stil genoeg moet raak en wees dat ons Sy stem tussen al die stemme rondom ons sal hoor en herken en dan doen wat Hy vir jou sê.

Dit klink miskien so eenvoudig en so vanselfsprekend, maar laat ons teenoor mekaar erken dat dit glad nie so maklik is nie. Dit is nie sommer iets wat vanselfsprekend gebeur in elke volgeling van Jesus se lewe nie. Dit is iets wat jy aanleer om te doen, soos wat jy waag om gehoorsaam tree vir tree, dag vir dag, uitdaging na uitdaging, in geloof agter Sy stem aan te loop.

Dit is in werklikheid herhalende geloofservarings wat ons elkeen het en beleef. Die detail daarvan gaan verskil van individu tot individu en van situasie tot situasie. Maar tog gaan daar bepaalde punte wees wat ons vir mekaar kan uitlig om mekaar hiervoor toe te rus en voor te berei.

Ons sal tog vir mekaar dinge kan uitlig soos die skrywer van die boek, Hebreërs, gedoen het toe hy gesê het dat om Jesus in geloof te volg, beteken om (in my eie woorde) te rus in Christus en dit wat Hy gedoen het en wil doen. Dit beteken dus dat jy sal ophou met jou eie planne en eie pogings om situasies die hoof te bied. Jy sal, soos Romeine 8 so treffend beskryf, moet kies om gelei te word deur die Gees van God wat in ons woon.

Met ander woorde, presies dit waaroor ons nog die hele tyd oor gesels in hierdie reeks oor die hart van die Nuwe Verbond en Nuwe Testamentiese beloftes wat vir elkeen van ons as volgelinge van Jesus geld.

Miskien klink dit alles baie teoreties vir jou as ek dit so beskryf, maar ek kan dit ook baie prakties vir jou omskryf.

Dit is maklik om vir mekaar te sê dat om ’n suksesvolle, betekenisvolle lewe te leef as volgeling van Jesus, moet ons leer om Sy stem te volg. Maar hoe doen ’n mens dit as die rekeninge elke maand instroom wat betaal moet word en daar net nie genoeg geld in die bank is om dit te doen nie.

Of, as ek dit vanuit ons as gesin wat in ’n geloofsbediening staan, moet beskryf: as jy nou al vir meer as 20 jaar, maand vir maand, in geloof moet wag vir genoeg geld in jou bankrekening, wat God gee deur gewone mense wat gehoorsaam moet gee omdat hulle beleef het God sê hulle moet gee. En jy beleef, soos Paulus beskryf, hoe daar die meeste van die tyd oorgenoeg is, maar daar ook baie maande ernstige tekorte is en julle diep in die rooi ingaan.

Wat staan jou dan te doen? Want wat ook al gebeur, jy moet sorg vir kos op die tafel dag vir dag, brandstof in jou motor vir al die ritte wat die Here op julle tafel neersit, geld om jou selfoonrekening te betaal of om die paaiement van jou huislening te betaal vir die huis wat die Here gesê het julle moet koop tien jaar gelede.

Hoe doen ’n mens dit steeds vreugdevol terwyl jy nie jou vrede verloor of jou dood bekommer as daar ’n bepaalde maand net nie genoeg is nie?

Of soos in baie van julle se lewens wat hulle werk verloor, of kliënte het wat net nie hulle rekeninge betaal nie? Wat beteken ’n lewe van praktiese volgeling-wees dan? Hoe doen jy dit en hoe bly jy dit doen in geloof?

Kom ons wees nou maar eerlik en sê vir mekaar: Hierdie is nie ’n lewe en pad vir sissies nie!

Hierdie is ’n geloofspad. Dit is ’n Hebreërs 11-pad waar ons in geloof moet uitstap en presies doen wat God ons aansê om te doen en om Hom dan heeltyd in die proses wat ons besig is, geheel en al te vertrou om getrou te bly aan Sy Woord en Sy karakter.

Dit is ’n lewe waar ons nie op die kant van die see kan sit en bid vir genoeg vis nie. Dit is ’n in die bootjie klim, as Hy sê dit is hier en nou waar jy moet visvang. En dan moet jy uitroei na waar Hy gesê het en jou lyn gaan ingooi of die net gaan uitgooi soos en hoe Hy gesê het. Al sê jou verstand en emosies en die mense om jou vir jou die teenoorgestelde.

Dit is ’n geval soos om soos ’n Jesaje te hoor hoe God daar in Jes. 6:8 vra: Wie sal vir Ons gaan en wie sal Ons stuur? En dan te antwoord: Hier is ek, Here. Stuur my!

Dit is wat praktiese geloof beteken en vereis.

Scroll to Top