Slegs mense wat die goeie nuus van die Evangelie gehoor en dit aangeneem het in geloof, is deel van die ware Bybelse Kerk. Slegs hulle is deel van die Nuwe Verbond geloofgemeenskap wat ons “Kerk” of Ekklesia in die Grieks noem.
Vriende, die feit dat jy of jou ouers kerk toe gaan, of Bybel lees, of dat jou ouers gelowiges is wat werklik deel is van die ware Kerk van Jesus, maak nie dat jy as hulle kind ook outomaties deel is van die ware Kerk van Jesus nie.
Onthou jy wat die bekende spreker, Louis Malherbe altyd grappenderwys gesê hê? Hy het gesê: Die feit dat jy in ’n garage gebore is of grootgeword het, maak nie van jou ’n motorkar nie.
Daarom, vriende, is ons eerste verantwoordelikheid as gelowige ouers, onderwysers en gelowiges in die algemeen, om aan ons eie kinders en ander mense se kinders, so vroeg moontlik, so effektief moontlik, op elke moontlike manier wat ons kan, die boodskap van die Evangelie oor Jesus Christus te verkondig.
En veral omdat jy boonop iets verstaan van hoe lief God kinders het. En veral hoe lief Hy die kinders van gelowige ouers het.
Dink ’n bietjie daaroor hoe God die kinders van gelowiges juis op so ’n besondere manier neergesist het. Dit is ’n plek waar Hy daar in die teenwoordigheid van hulle gelowige ouers elke dag en in die midde van ’n gelowige geloofsfamilie rondom hulle ouers, van die begin van hulle lewe af elke dag iets van Sy lewe, seën, teenwoordigheid, genade, krag en Woord wil laat beleef. Hulle moet Hom daar ontdek as ’n lewende God wat reeds deur Sy Gees in hul ouers en in ander gelowiges in die geloofsfamilie rondom hulle se lywe woon.
Hulle is dus op ’n baie besondere manier elke dag in die direkte teenwoordigheid van ’n lewende God. Waar Hy met mense praat. Waar Hy self onder en in hulle werk. Waar hierdie gelowiges met mekaar praar oor hierdie lewende God en waarmee Hy in hulle lewens besig is. Waar hierdie gelowiges mekaar bedien met die bonatuurlike krag en gawes van die Heilige Gees en almal weet dit is eintlik God self wat hier deur hulle werk en besig is.
Hoe bevoorreg is die kinders van gelowiges nie!
G’n wonder die God van die Bybel beskryf Homself as ’n Verbondsgod wat op ’n besondere manier die God wil wees van gelowiges, maar ook hulle kinders nie.
Hy wil ook vir daardie kinders van gelowige ouers ’n Vader wees, omdat Hy hulle so liefhet. Hy het hulle immers so liefgehad van die begin af, van voor hulle geboorte af, dat Hy ook vir hulle Sy Seun na hierdie aarde toe gestuur het om ook vir hulle die effektiewe teenmiddel daar te stel wat ook hulle as kinders kan verlos en genees van die dodelike siekte wat hulle by hulle ouers en voorouers ge-erf het, naamlik sonde en sondaar-wees.
Net Jesus Christus en die verlossing wat in en deur Hom beskikbaar is vir mense, kan jou kind en ander kinders genees en verlos.
Net soos dit vir alle ander mense geld, volgens die Bybel, geld dit ook vir kinders. Daarom is deel van die ware Evangelieboodskap hierdie uitnodiging ook aan kinders dat diegene van hulle wat Jesus Christus as Verlosser en Here aanvaar in geloof, deel word van die ware Bybelse Kerk as Nuwe Verbond-geloofgemeenskap.
Selfs al glo die gedeelte van die Kerk waar dalk jy aanbid verkeerdelik dat die doop aan babas van gelowige ouers bedien mag word, maak die feit dat daardie babas besprenkel is met water nie van daardie babas en kinders lede van die ware Bybelse Kerk nie.
Gaan lees maar weer die Bybel hieroor.
Die feit dat jy verkeerdelik glo dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het en dat jou kinders op grond van die beloftes van daardie Ou Verbond deel sou word van die “volk van God”, maak nie jou kind deel van die ware Kerk van Jesus nie.
Volgens die Here van die Kerk en wat Hy ons geleer het in Sy Woord, is die ware Bybelse Kerk ’n Nuwe Verbond-geloof-gemeenskap. Dit bestaan dus uit mense wat erens in hulle lewe die Evangelieboodskap gehoor het en gekies het om dit te glo. Slegs hulle, volgens hierdie Bybel, mag dan ook gedoop word met die Bybelse doop.
Daarom sê ek weer: As jy iets verstaan van hoe lief die God van die Bybel juis vir kinders het, alle kinders, maar in die besonder kinders van gelowige ouers, sal jy verstaan hoe groot jou verantwoordelikheid is om juis aan kinders, van so vroeg moontlik af, hierdie wonderlike Evangelieboodskap oor Jesus te vertel op so ’n eenvoudige manier as moontlik. Sodat die kleinste kind dit kan verstaan.
En as jy nie weet hoe lief God kinders het nie, gaan lees weer ’n slag biddend en met groot erns gedeeltes in die Bybel soos Mat. 18:1 tot 14 en 19:13 tot 15.
Ek wil amper vir jou sê: Moenie net dit gaan lees nie. Leer dit uit jou kop sodat jy ten minste daardie veertien verse in Mat. 18 in jou eie woorde vers vir vers vir jouself en ander kan herhaal.
En dan blaai jy na Ps. 78 toe en kies om saam met die psalmdigter te belowe: “Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.”
