Elkeen van ons is besig om ons eie lewensverhaal dag vir dag te skryf. Net soos ’n Moses, Josef en Abraham hulle geloofstories hier op aarde uit-geleef het, so moet elkeen van ons ons geloof-verhaal dag vir dag, van situasie tot situasie uit-leef.
Deur elke besluit wat ons neem, elke keuse wat ons maak en elke ding wat ons doen, is ons besig om te openbaar wat werklik in ons hart aan die gang is en hoeveel ons werklik die Een vertrou wat bekendstaan as die Mees Betroubare God.
Op ’n stukkende aarde, vol stukkende mense, waar die onsigbare vyand nogsteeds ’n werklikheid is, is ons dae gevul met goeie en slegte dinge. Soos Rick Warren sê, al gebeur die wonderlikste dinge in ons lewe elke dag waaroor ons die Here kan loof en prys, is daar selfs op daardie dag uitdagende dinge in ons lewe waarvoor ons God steeds moet vertrou.
Elkeen van ons se lewens is hierdie reeks keuses wat ons lewe kleur en rigting gee. Dit is soos daardie reis wat jy en jou familie vakansies onderneem. Julle begin erens en reis dan ’n bepaalde roete wat julle uiteindelik by die een of ander bestemming uitbring. Die meeste van die tyd wil ons so gou moontlik by ons eindbestemming aankom. Dan is dit belangrik om van die begin af die regte en kortste roete te neem.
Dit is ook waar van ons geestelike reis hier op aarde. Ons is net vir ’n kort tydtjie hier “op-pad”, “vreemdelinge” noem die Bybel ons. Ons is soos “buitelandse toeriste” hier op aarde, wat net tydelike verblyf- en reispermitte hier het.
Maar wat ons reis hier op aarde so belangrik maak, is dat dit ons eindbestemming bepaal.
Maar meer as dit: die keuses, gedagtes en optredes op hierdie reis bepaal uiteindelik of jou reis, soos daar in Hebreërs 11, ’n voorbeeld kan wees van wat as Bybelse geloof en gelowig-wees beskryf kan word.
Kan ek jou vra? Hoe lyk jou lewenstorie? As mense kyk na jou lewe wat jy gister en eergister gelewe het en die keuses wat jy gemaak het en die dinge wat jy gesê het, sou hulle jou kon beskryf as ’n gelowige volgeling van Jesus of nie?
Daardie woorde daar in Openbaring 20:12 gryp my elke keer aan as ons daar lees: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.”
Daar in Mat. 25 lees ons hoe Jesus die volgende vertel: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.
Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.
Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’
Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’
En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’
Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’
Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’
En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’
En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”
As ek hierdie woorde van Jesus lees, dan wonder ek of my optrede vandag en of my gedagtes of woorde vandag werklik beskryf sou kon word as dié wat pas by ’n “gelowige volgeling van Jesus”? Getuig dit werklik van hoeveel ek Jesus vertrou en waardeer in my lewe?
Ek wil afsluit met my eie verwerking van ’n aanhaling van ’n skrywe van Rick Warren waarin hy vertel hoe hy en sy vrou haar worsteling met kanker leer hanteer het. In die lig daarvan het ek dit so vir myself verwoord:
Wanneer dit met ons goed gaan, kan ons maar net God loof en prys vir Sy genade aan ons.
Die swaar tye in ons lewe gee ons geleentheid om God se aangesig naarstig te soek.
Die kalm en stil tye in ons lewe bied ons geleentheid om in dankbaarheid stil te wees in God se teenwoordigheid.
Die pynlike en selfs lewensbedreigende oomblikke in ons lewe gee ons geleentheid om net op God se bonatuurlike ingrype, krag en liefdevolle ondersteuning te vertrou.
Maar wat ook al ons omstandighede, kan ons maar net God dank dat Hy altyd daar is en so getrou is aan Sy Woord.