Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 49

Blaai ’n mens ’n bietjie in die Bybel rond op soek na ’n prentjie van wat die hart van die Nuwe Verbond is wat God met gelowige volgelinge van Jesus Christus gesluit het, beskryf die Bybel dit veral op hierdie baie insiggewende manier, soos daar in Eseg. 36:25 tot vers 31, waar die volgende staan:

“Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.

Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.

Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.

Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie.

Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie.

Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”

Wow! Hoe insiggewend is dit nie!

G’n wonder as Paulus oor ons as volgelinge van Jesus Christus skryf, beskryf hy ons presies in hierdie selfde terme daar in Rom. 8 byvoorbeeld. Daar skryf hy onder die inspirasie van die Heilige Gees die volgende: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie.

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.”

Toe God ons wederbaar en nuutgemaak het toe ons Jesus Christus en dit wat Hy gedoen het vir ons met die leë hande van geloof vasgegryp het, het Jesus Christus Sy lewe aan ons kom bedien deur die werking van Sy Gees wat nou in ons kom woon het.

Dit is wat die Ou Testament bedoel daar in Esegiël, as daar staan dat Hy aan ons Sy Gees gegee het.

En dit is Sy Gees in ons wat die verskil maak.

Jesus het belowe daar in Joh. 10:3 tot 5 dat Hy ons gaan lei deur Sy stem. En hoe gaan Hy met ons praat?

Hy gaan met ons praat deur Sy Gees. Dit is Sy Gees wat deur die Woord, die Bybel, met ons gaan praat. Dit is ook Sy Gees wat ook ander gelowiges gaan gebruik om deur die gawes van lering, profesie, ’n woord van wysheid of ’n woord van detail kennis met ons gaan praat.

En dit is hierdie Gees wat self met ons hier van binneaf gaan praat. Ja, dit gaan klink en voel soos “gedagtes wat spontaan by ons opkom”, maar inderwaarheid gaan dit die Heilige Gees wees wat met ons praat.

Dit gaan ook hierdie Gees wees wat nuwe dinge aan ons gaan openbaar. Hy gaan vir ons as’t ware ’n bril opsit om dinge te begin raaksien wat agter die skerms gebeur, wat eintlik onsigbaar is en wat ander mense nie kan sien nie.

Dit is Hy wat ons oë oopmaak vir wat daar in Ef. 6 staan, dat die rede waarom sekere dinge in en rondom ons gebeur, toe te skryf is aan ’n geestelike, onsigbare oorlog wat rondom ons aan die gang is. Ons is in ’n geveg betrokke met onsigbare bose magte en geeste.

God se Gees gaan ons oë daarvoor oopmaak dat die dinge wat rondom ons in die geskiedenis van die mensdom aan die gebeur is en reeds gebeur het, ook ’n onsigbare dimenisie het: dit is ook alles maar net die sigbare kant van gebeure wat in werklikheid die gevolg is van hierdie onsigbare oorlog en onsigbare realiteit wat agter die skerms aan die gebeur is.

Scroll to Top