Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 47

Ons het die afgelope tyd met mekaar soveel merkwaardige dinge gedeel oor wat God se Gees vir ons in die Woord openbaar oor wie en wat ons as ’n Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap in Christus Jesus is.

In 2 Kor. 5:17 word ons beskryf as deel van ’n nuwe skepping. In Kolossense staan daar dat Christus Jesus self in ons woon deur Sy Gees. Gal. 2:19 en 20 sê dit so: “… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Sjoe, ek weet ons het al by ’n paar geleenthede vir mekaar iets van die wonder en diepte van wat hier staan, probeer oopbreek. Maar hier is soveel dimensies in versteek dat ons maar nog ’n bietjie hierby kan stilstaan.

Wat die Here met hierdie en sovele ander woorde in die Nuwe Testament aan my en jou wil openbaar is dat daar iets merkwaardig met ons gebeur het toe toe ons gekies het om in Jesus Christus as gekruisigde en opgestane Here te glo. God se Gees het ons “wederbaar”, is die manier hoe dit daar staan.

Behalwe dat ons wat dood was, lewendig geword het, het daar ’n ander merkwaardige skuif in ons plaasgevind. Kom ek verduidelik dit so: Waar ons in hierdie driedimensionele wêreld van ons al die jare geleef het, het daar skielik vir ons ’n nuwe dimensie oopgegaan. Kom ons noem daardie dimensie: die dimensie van die Gees.

Waar ons voorheen alles met ons verstand en vyf sintuie beleef, bedink en bevoel het, breek hier nou ’n nuwe dimensie vir ons oop omdat God se Gees vir ons nuwe geestelike sintuie gegee het. Hiermee het ons bewus geword van die realiteit van ’n lewende God wat ons liefhet en by ons as indivdu, midde 7 miljard ander mense, in die detail van ons lewe betrokke is. En dit het alles gebeur toe ons die lewensveranderende ontdekking gemaak het dat Jesus van Nasaret wat 2000 jaar gelede as ’n Jood in Israel geleef het , werklik die “Lam van God” en “self God was wat mens geword het”.

God se Gees het ons in hierdie proses ook geestelike ore gegee waarmee ons God se stem kon hoor en herken as Hy op allerlei maniere met ons praat.

Ons het selfs nuwe geestelike oë gekry wat iets van God se koninkryk sien “gebeur” hier rondom ons, al is dit dan net soos spatsels lig wat oral om ons deurbreek.

Natuurlik bly ons gewoon mens en daarom geneig, as ons nie onder hierdie Gees se beheer is nie, om maar weer met net ons gewone sintuie en gewone verstand dinge te bekyk en te bedink. Om dinge deur ons geloofsoë te bekyk en gelowig te bedink, word nou ’n nuwe dissipline en keuse wat ek elke dag in elke situasie moet maak en beoefen.

Ek moet kies om te bly glo dat Christus Jesus self in Sy mense woon en daar is waar Sy mense is. Daar in Mat. 18:20 belowe Jesus Christus self aan ons: “… waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Ek moet kies om te glo dat Hy in my woon.

Ek weet ons ken hierdie verse en sê dit gereeld vir mekaar. Maar kom ons erken nou maar aan mekaar dat as ons met ons gewone oë en verstand kyk en luister na wat rondom ons aangaan in wat “kerk” genoem word, ons God se Gees se leiding en beheer nodig het om met geestelike oë daarna te kyk en ’n geestelike, nuutgemaakte en geheiligde verstand nodig het om daaroor reg te dink.

Dieselfde geld vir as ons na onsself kyk en oor onsself dink.

Ja, ons weet dat Christus Jesus deur Sy dood die straf wat daar op ons gerus het vir ons sondes weggeneem het. Maar dit is onder die beheer van God se Gees in ons wat ons ook gelowig kan vashou aan die troos van die Skrif dat Hy ook ons sondig-wees, ons sondaar-wees, weggeneem het!

Scroll to Top