Ons is besig in ons reeks oor die Nuwe Verbond wat my en jou deel is, om vir mekaar te vertel wat dit beteken dat ek en jy, as deel van God se Nuwe Verbondsgemeenskap, bedoel is om getuies in hierdie wêreld te wees.
Die wêreld om ons vra: Waar is God?
Dit is my en jou voorreg om hulle te help om Hom te ontdek … en om Jesus te ontdek.
Dit is ons voorreg om hulle te help om Sy stem te begin hoor en Sy stem te herken in hulle lewens.
Dit is ons voorreg om hulle te help om te ontdek waar en hoe God besig is om hulle te seën, al ken hulle Hom nog nie. En om hulle te help om al die tekens van Sy liefde, Sy besig-wees en Sy goeie bedoelings met hulle raak te sien.
Iemand het eenmaal gesê: Hoe meer ek van myself ontdek, hoe ongelukkiger word ek. Maar hoe meer ek God ontdek en Sy plan in en vir my lewe, hoe gelukkiger het dit my gemaak.
Toe iemand vir die teologiese professor en skrywer van baie teologiese boeke, Karl Barth, vra na wat die belangrikste ding was wat hy ooit in sy lewe ontdek het, het hy na ’n rukkie van stilte saggies die kinderliedjie begin sing: “Oh, Jesus loves me. Oh, Jesus loves me. Oh, Jesus loves me. For the Bible tells me so!”
As ek en jy vir ’n Paulus hierdie selfde vraag sou vra, was sy antwoord dit wat hy daar in Fil. 1:21 bely het: “… want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Alles gaan oor Hom. Alles begin sin maak as Hy ons bril is.
Om ’n getuie van hierdie Jesus te wees beteken om mense te help om die tekens van die tye reg te lees. Soos die visserman en die skipper op die see.
Onthou jy die woord van Jesus hieroor daar in Mat. 16:3, toe Hy gesê het: “… in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.”
Of daar in Luk. 19:42-44 toe Jesus oor Jerusalem huilend gesê het: “Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”
Die Here praat op soveel maniere met mense. Met Noag het Hy deur ’n reënboog gepraat. En met Moses deur ’n brandende braambos. Met die volk in die woestyn het Hy elke dag gepraat deur ’n wolk.
So vertel ’n kruis op Golgota hierdie merkwaardige verhaal van God wat elke mens op aarde so liefgehad het …
So moet ek en jy mense help om die Bybel reg te lees sodat hulle die lewende God met hulle kan hoor praat op elke bladsy.
En moet ons hulle vertel van hoe geloof ons oë geword het om oral om ons tekens van hierdie God se besigwees in ons lewe raak te sien.
Om ’n getuie te wees is om so te lewe en af en toe dinge vir mense te vertel van God se storie en besig-wees in jou lewe. Ja, om hulle te vertel van daardie dag in ons lewe wat ons ’n lewende Jesus ontmoet het en gekies het om Hom te volg.
Op die manier word ons in ’n sin advertensie van die bestaan van hierdie God, die God wat Homself aan mense openbaar deur Sy Woord en deur die lewe van Jesus.
Ons word dan ook Sy tekens en getuies … wat Hy dan kan gebruik om lewe en hoop aan mense om ons te bedien.
