In die lig van God se profetiese woord vir 2014, word my en Hetta se opdrag vir vanjaar vasgevang in die woorde van Jes. 62:10-12 waar daar die volgende geskryf staan: “Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek ‘n banier op dat die volke dit kan sien!
Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: ‘Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom! Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit. Hulle sal genoem word: Gewyde volk, volk wat deur die Here verlos is.’”
In Oktober 1993 het die Here my en Hetta gesalf en toe uitgestuur om “nuwe wyn” aan Sy mense te bedien. Ons moes alles prysgee om in geloof hierdie opdrag te gehoorsaam.
Die hele tyd het God belowe dat dit ter voorbereiding was van ’n herlewing wat op pad was. In April 1997 en daarna gee Hy ons ’n visioen van die herlewing wat in die Wes-Kaap gaan begin en soos ’n veldbrand oraloor Suider-Afrika en die res van Afrika gaan versprei, om dan ook te spring na Europa toe en die res van die wêreld. In die lig hiervan vra Hy ons gedurende daardie jaar om alles te verkoop in Potch, ’n wonderlike groeiende vernuwings-gemeente agter te laat en Wes-Kaap toe te kom om deel te wees van Sy span wat die pad vir hierdie herlewing moet voorberei.
Nou sê Hy die herlewing is voor die deur en op die punt om te gebeur.
Ek en Hetta het gehoor dat ons, saam met ons internetgemeentelede, van die vuurhoutjies is wat hierdie herlewing moet aansteek op bepaalde plekke en in bepaalde gemeenskappe. Luister na God se woorde in die verband:
Rom. 10:9 tot 15 – “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.
Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.’
‘Niemand nie!’ Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.’”
Daar in Jakobus 3 word dit wat ek en jy met ons tong aan mense sê vergelyk met ’n vuurhoutjie wat ’n veldbrand aan die brand steek (wat ’n mens positief of negatief kan interpreteer). Spreuke 18:21 sê daarom: “Die tong het mag oor dood en lewe.”
Ons weet dat hierdie weeklikse nuusbrief week na week vir meer as 13 jaar reeds deur God gebruik word in Sy genade om die goeie boodskap oor te dra. Maar omdat daar ’n bepaalde Gees-salwing op my en Hetta se lewe rus as deel van God se apostolies-profetiese span, gebeur daar besondere dinge waar ons in persoon God se mense bedien deur die krag en gawes van die Gees. Daarom hoor ek en Hetta tans dat ons onsself beskikbaar moet stel as twee vuurhoutjies wat God wil gebruik om die herlewing-veldbrand oral verder te gaan versprei.
Die Veldbrand van die herlewing
Daar in 1 Kon. 18:20 e.v., het Elia ’n byeenkoms van God se volk byeengeroep het en aan hulle gevra: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”
Toe begin hy ’n altaar bou, wat in ons moderne eeu ’n reuse vuur sou wees wat hy daar opmekaargestapel het, terwyl hy God vertrou om daar Homself in Sy heerlikheid as ’n lewende God aan mense te vertoon.
So beleef ek en Hetta, dat ons vanjaar, met julle as ons medewerkers, oral vure moet aanpak, waar ons God gaan vertrou om self Sy opwagting te maak en met die vuur van herlewing mense se lewens aan te raak.
Die manier hoe julle ons medewerkers kan word hierin is op ’n velerlei wyses:
• Deur te gaan sit by die voete van Jesus en te hoor of jy nie die inisiatief moet neem om so ’n byeenkoms vir jou, jou vriende en gemeenskap te reël daar waar jy woon nie
• Deur middele soos finansies, vervoer, huisvesting ens. tot ons beskikking te stel om dit te doen.
• Deur aan te bied om ons te vergesel na sekere plekke of lande waar die Here jou die opdrag gee.
Daar in Joh. 2 word Jesus uitgenooi na ’n bruilof. Hy gee vir die kelners opdrag dat daar 6 tot 8 kanne water na Hom gebring word toe die wyn opraak by die bruilof. En jy ken die res van die gebeure. Hoe Hy die water in een oomblik verander in die beste van beste nuwe wyn.